NewsNews

Dit was nie jou verbeelding nie – daar wás ‘n aardbewing!

‘Ek het gedog hier kóm dit – die gebou gaan nou op my val!

Vaalweekblad berig:

VEREENIGING. – As jy Donderdag, 7 Maart, omstreeks 11:30 die aarde onder jou voel beweeg het, was jy nie noodwendig verlief, versteurd of vol wyn nie. Daar was inderdaad dié oggend ‘n ligte aardbewing wat deur baie inwoners van die Vaaldriehoek waargeneem is.

Marlene Janse van Rensburg van Drie Riviere was die eerste Facebookleser wat haar ervaring gerapporteer het. Sy sê selfs haar vensterbanke het geskud.

Meer as honderd lesers het daarna kommentaar gelewer. Die meeste het haar ervaring beaam terwyl ‘n paar gesê het dat hulle niks gevoel het nie.

Martha van Biljon sê sy het die trilling in CW1, Vanderbijlpark gevoel maar dit aan niemand genoem nie. “Het gedink ek verbeel my, maar dit was ‘n aardige gevoel.”

Ruanda van der Westhuizen het laat weet sy het dit ook gevoel, “…gedog ek is mal,” skryf sy. Martin Coetzee het laat weet die ligte skudding is ook op ArcelorMittal se terrein gevoel.

Andries Spies het laat weet in Vereeniging het sy hele kantoor se plafon behoorlik geskud. “Ek het gedog hier kom dit – die gebou gaan nou op my val,” skryf hy.

Die webwerf www.volcanodiscovery.com se aardbewingmonitor berig daar was die oggend ‘n aardbewing op ‘n 10 km-diepte in Fochville. Volgens Gekoördineerde Universele Tyd het dit om 09:32 plaasgevind (omstreeks 11:30 Suid-Afrikaanse tyd). Dit het 4.7 op die Richterskaal gemeet, wat as “lig” beskou word, maar wat steeds wyd uitgekring het en as trillings in die Vaaldriehoek, Westonaria, Carletonville, Potchefstroom en dele van Johannesburg gevoel is.

Hoewel daar vermoed word dat die skudding met goudmynbedrywighede in Fochville verband kan hou, is die presiese oorsaak nog nie bekendgemaak nie.

Related Articles

Back to top button