NewsNews

Oud-apteker en allemansvriend word 95

Hy glo dat mens moet besef hoe gelukkig jy is, en moet probeer om jou geluk met ander te deel.

Oom Coen de Jager, geliefde oud-apteker van Parys, het Vrydag 8 Maart, 95 jaar oud geword. Hy woon steeds onafhanklik in sy huis, en talle familielede, ook vanuit die Kaap, het sy uitsonderlike mylpaal met hom kom vier.
Oom Coen se kleurryke loopbaan het begin met die aanvanklike droom van predikant-wees, en het hy twee jaar lank BA-admissie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer ter voorbereiding vir die teologiese kweekskool.
Hy het egter gou besluit hy wil eerder as apteker die fisiese lyding van mense help verlig, en toe hy probeer inskryf as leerlingapteker by ‘n gesiene Kaapse apteker, was daar ‘n voorwaarde. “Ek sal u aanvaar mits u as apteker niemand wat medisyne benodig sal wegwys omdat hy nie daarvoor kon betaal nie.”
Coen het die voorwaarde aanvaar, en toe ywerig geleer “pille maak” en medisyne “meng”.
Op ‘n dag het hy op Tafelberg na ‘n raar medisinale krui gaan soek – sonder sukses. “Toe ontmoet ek genl. Smuts, die Eerste Minister, en met sy enorme botaniese kennis het hy my dadelik beduie waar op die berg die kruie groei.”
Na hy sy aptekerskwalifikasie verwerf het, het oom Coen in Pretoria by die staatsapteek gaan werk.
In 1955 kon hy met die hulp van ‘n vriendelike groothandelaar sy eie apteek in Swartruggens koop.
In 1964 het hy Parys se oudste apteek, Geen & Velleman, van mnr. Neville Velleman gekoop, en was ‘n gewaardeerde en vertroude raadgewer vir talle mense in Parys, tot sy aftrede in 1994.
Oom Coen is ‘n man wat sy lewe lank nog op sy gesondheid gefokus het – fisiek en geestelik.
Sy eggenote het hom verlede jaar ontval, na ‘n ‘gelukkige huwelik’ van 69 jaar.
Hy praat vlot Sotho, en het daarom ook ‘n noue band met alle inwoners van Parys oor kleurgrense heen.
Vir hom is waardes soos liefde, dankbaarheid, en vergifnis baie belangrik. Dit is ook hierdie waardes wat hy al in talle gedigte vasgepen het.
Hy glo dat mens moet besef hoe gelukkig jy is, en moet probeer om jou geluk met ander te deel.
Hy is die vader van ses kinders, onder meer Saal de Jager, bekende sakeman van Parys.
Oom Coen bedank almal vir die liefde wat hy ontvang! “Ek is werklik geseënd en het van 06:00 die oggend tot 21:00 die aand oproepe en besoekers met goeie wense ontvang op my verjaardag.” Mag daar nog vele jare wees oom Coen – Red.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button