NewsNews

So sal ek vir Sarel de Jager onthou

Rus sag oom Sarel

Hoe dikwels het ek hom nie raakgeloop daar by die trappies na die NG gemeente Parys-Oos se kerkkantoor. Sy pakkie lêers of papiere styf onder die arm. In beheer, so presies, ‘n man vir detail. ‘n Man wat kon organiseer.

Wat vir jou presies sou kon sê hoeveel brode gesmeer moes word en hoeveel kilogram vleis nodig was vir die Oos-gemeente se jaffelprojek vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Waar daar gewerk moes word, was hy, daar by die jaffels, maar ook met sy vele ander take.

Ek onthou die dae toe hy skoolhoof was van Hoërskool Parys. Daardie opregte belangstelling in mense, sy groot liefde vir sport, sy opregte geloof, sy vermoë om die komiese in elke situasie raak te sien.

Die onuitwisbare indruk wat hy gelaat het op elke leerling en onderwyser wat deur die jare sy pad gekruis het. ‘n Leier, ‘n merkwaardige man, ‘n nederige mens.

So is daar die volgende geskryf in die 1988 jaarblad van Hoërskool Parys – “Staan ‘n mens voor die portrette van vorige skoolhoofde, besef ‘n mens dat elkeen van hulle die regte man op die regte tyd in die geskiedenis van Hoërskool Parys was. Elkeen het sy eie stempel op die aard en karakter van die skool afgedruk. In mnr. Sarel de Jager het ons weer eens die regte man gevind vir ‘n bepaalde tydsgewrig in die geskiedenis van Hoërskool Parys. Vir ons het die angstige afwagting nou plek gemaak vir kalme tevredenheid.”

En dan die woorde dat hy ‘n gelukkige werkwêreld geskep het waarin elkeen slegs sy beste kon lewer. “Vir ouers, leerlinge en personeel was die kantoor se deur altyd oop en agter die lessenaar ‘n vriendelike, begrypende oor wat met deeglike insig raad kon gee waar nodig, en aanpraat as dit nodig was.”

Vir Sarel was dit vanoggend in die vroeë oggendure vir oulaas groet na ‘n kort stryd met kanker.

Jaffelbak by die Oos-gemeente waar hy gemeentebestuurder was, sal nooit weer dieselfde wees nie. Op Geloftedae en in die kerk sal sy plek leeg wees.

Daardie presiesheid waarmee hy alles wat hy aangepak het, deurgevoer het, sal altyd onthou word.

Parys en sy mense bring vandag hulde aan ‘n man wat waarlik geleef het in sy gemeenskap. Rus sag oom Sarel.

Ons innige medelye aan sy vrou, Ria, kinders, kleinkinders en familie.

Dankie aan elkeen wat op soveel wyses betrokke was in sy lewe, tydens sy siekbed, en vandag ‘n familie wat treur omring met opregte omgee.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button