NewsNews

Met permissie Edelagbare – dis nuut en vindingryk, maar…

Hulle maak seker dat wat joune is, joune bly.

Dit is soos om in ‘n glasbal te kyk en ’n vooruitskatting te maak. Die skakel in ‘n gespesialiseerde wêreld van tegniese kundigheid. Of dit innoverende patente, handelsmerke, handelsgeheime, of konfidensiële inligting is, dit is die patente prokureur wat moeilike vakterme omskakel na ‘n besigheidsplan, in regstaal om seker te maak wat joune is, bly joune.
Morné Barradas is ‘n Senior Bestuurder IP, (Intellektuele Eiendom) Risiko en Regulering vir Sasol. En net so lank as wat haar posbenaming is, kan Morné vir ure gesels oor die opwindende uitdagings van ‘n patente prokureur. ‘n Hoogs gespesialiseerde veld, waarvan daar net nagoeg 200 in Suid-Afrika is. Hiervan spog Parys met 2 patente prokureurs wat albei vir Sasol werk.
Met haar rekenaar by haar, het sy die vryheid om letterlik op enige plek te kan werk, maar een dag in ‘n week is sy by die Sasol-aanleg in Sasolburg waar sy nou saam werk met ingenieurs en wetenskaplikes, terwyl sy 1 dag in die week ook by Sasol se Sandton kantoor is om skakeling te hou met die korporatiewe omgewing.
Morné werk in Sasol se energie-kant. Sy moet weet wie haar maatskappy se rolspelers is en hul kompetisie. Daar moet ook elke maand gesif word deur nagenoeg 300 nuwe en bestaande patente saam met ‘n tegniese IP adviseur, sodat sy ‘n volledige inligtingsprentjie het van watter risiko’s en moontlikhede daar is ten opsigte van onder meer patente, prosesse, apparaat en metodes in die energieveld.
Haar sleuteltaak – besigheidstrategie. Om jou maatskappy se intellektuele eiendom te beskerm, maar ook een voor te wees by jou kompetisie met die regte besigheidsplanne en regsadvies. “Jy moet weet waar jou produk vandaan kom, waar dit heen gaan, en in watter lande jy patenteregte sal moet indien.”
Elke patente prokureur het sy spesialisveld, hetsy dit in die landbou, mediese wetenskap, rekenaartegnologie, of ingenieursveld is.
Omdat patente ‘n regsdokument is, moet daar gespesifiseer word wat die patent is, hoe dit werk, hoe die patent verskil van bestaande patente en wat jou aanspraak daarop gee.
Elke land het sy eie patentwetgewing. Patente word tans in ander lande ge-eksamineer vir nuutheid en vindingrykheid daarvan. Suid-Afrika was vir jare nie ‘n eksaminerende land nie. Dit is egter besig om te verander en kan tot nuwe beroepsopsies in dié veld lei.
Wat jy moet weet:
As jy die regsprofessie oorweeg, is hierdie ‘n uitstekende opsie MAAR jy moet deursettingsvermoë hê want dit gaan minstens 10 jaar se studie vra. Vier jaar om ‘n ingenieurs of wetenskap kwalifikasie voltyds te verwerf aan enige universiteit, en dan nog 4 jaar wat jy deeltyds kan doen om jou regsgraad te verwerf. Dan moet jy jou klerkskap doen, die SA Prokureurs Orde se toelatingeksamen slaag en jou patente eksamen slaag. ‘n Baie gespesialiseerde veld, bevredigend en uitdagend vir die persoon wat meer in ‘n beroep soek, en waarvoor daar tans ‘n behoefte is.
Vaardighede:
* Analitiese denker
* Tweetalig met uitstekende taalvaardighede in beide tale.
* Goeie luistervaardighede
* Goeie menseverhoudings
* Liefde vir lees want jy gaan baie naslaanwerk doen.
* 100% akkuraatheid
* Tegniese en regskennis
Waar patente prokureurs werk:
* Jy kan werk as ‘n SA patente prokureur (jou eie firma of bestaande patente prokureursfirmas), of as spesialis in die veld by groter algemene prokureursfirmas. Hier sien jy uitvinders om hul innoverende werk te bespreek en aanbevelings te maak vir die nodige patentaansoeke. Jy sal korrespondeer met patente prokureurs in ander lande en jou kliënt help met die eksaminasie van die patent in verskillende lande. Sou jy in ander lande wil praktiseer, sal jy bes moontlik ‘n oorbruggingskursus moet doen.
* Jy kan ‘n IP regsadviseur in die korporatiewe wêreld wees waar jy ‘n spesifieke tegnologiese area bestuur, beskerm en adviseer. Jy moet op hoogte bly van die nuutste tegnologiese ontwikkeling nasionaal en internasionaal.
* Jy kan as tegniese IP adviseur of as patent eksaminator werk as jy net ‘n tegniese kwalifikasie, en diploma of eksamen in patentreg geslaag het.
* By ‘n prokureursfirma sal jy as regspraktisyn meer fokus op die lisensiëring en kontraktuele aspekte van IP-reg en minder op die tegniese sy.
* Laastens kan jy die IT wêreld met die IP wêreld kombineer en byvoorbeeld data basisse en soekenjins bou sodat patentinligting en patentaansoeke meer effektief gedoen en geannaliseer kan word. So kan programmatuur ook in plek gestel word om die bestuur van IP-portefeuljes te outomatiseer en te vergemaklik.
Meer oor Morné:
Morné het 4 jaar BSc Chemie studeer tot op Honneursvlak. Sy begin in 1992 as wetenskaplike by Sasol en studeer deeltyds regte aan Unisa. In 1995 wou Sasol begin om sy sogenaamde “Gas to Liquid” proses internasionaal te gebruik, en is ‘n IP-groep deur Sasol gestig.
Morné is betrek by die groep, en so het sy in 1995 in Sasol se virtuele kantoor beland waar sy vandag is. “Ek is mal oor my werk en die beste is dat jy dit kan doen tot jy grys is,” gesels sy. Hiervan getuig dr. Hans Hahn se lewensverhaal wat tot diep in sy negentigs nog een dag per week ingegaan het kantoor toe. So ook Dux Truter by Kish Inc, by wie Morné haar klerkskap in 2000 gedoen het, toe hy al in sy laat sewentigs was.

Related Articles

Back to top button