NewsNews

“Ek het sy voete deur die glasvenster gesien”

“Ek het sy voete deur die glasvenster gesien"

Ruth Qokotha, die ma van Samuel Tjixa sal na verwagting vandag, Vrydag 8 Maart na die getuiebank in die Hoë Hof in Parys geroep word. Dit nadat regter Corné van Zyl gister (Donderdag 7 Maart) aangedui het dat sy ’n familielid van Tjixa en Simon Jubeba na die getuiebank gaan roep om die oorledenes te identifiseer op foto’s wat as bewysstukke voor die hof dien.
Dit is om onduidelikheid oor die identiteit van die persone op die foto’s uit die weg te ruim.
Die verdediging vir die ses mans wat tereg staan op die moord op Jubeba en Tjixa, nou meer as drie jaar gelede, het vandeesweek onder meer weer gewys op die verskille tussen die kliniese verslae, die nadoodse ondersoek en foto’s van die oorledenes wat as bewysstukke by die hof ingehandig is.
Vrae oor wat vroeër deur die staat se 204 getuies getuig is oor die beserings wat die oorledenes opgedoen het op 6 Januarie 2016 toe hulle op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik aangerand is, is ook weer uitgelig.
Boeta van der Westhuizen, sy seun, Loedie, skoonseun, Miela Jansen van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo, en Anton Loggenberg en sy seun, Cor, is vir die moorde aangekla, terwyl daar ook klagte van regsverydeling teen Boeta van der Westhuizen en Loedie van der Westhuizen is.
Die mans was deel van ‘n groep mense wat op 6 Januarie 2016 gereageer het op ‘n noodroep van Loedie van der Westhuizen Sr, na ‘n plaasaanval.
Hierop is Jubeba en Tjixa aangekeer en voer die staat aan dat hulle sodanig deur die beskuldigdes aangerand is dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het.
Tjixa het in die Parys Distrik-hospitaal gesterf, en Jubeba in die Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein.
Die leemtes in die patologiese verslag van dr. Baung Lairi, is vroeër al deur prof. Jan Botha uitgewys wat as ekspert getuie deur die verdediging na die getuiebank geroep is. Prof. Botha is ‘n afgetrede forensiese patoloog.
Die kliniese verslag met X-strale wys geen skedelbreuk, terwyl ‘n foto wat die staat beweer dié van een van die oorledenes is, ‘n duidelike kopwond wys.
Die staat kon nie Donderdag sê waarom hy nie die huidige hoof van die patologiese eenheid wat die verslag uitgereik het, geroep het as getuie nie, terwyl hy wel vroeër in die hof was nie.
Selina Tangaja, het reeds Donderdag die foto’s van die oorledenes uitgeken. Simon Jubeba was haar susterskind, en sy het Samuel Tjixa sy lewe lank geken. Beide het in die Tumahole-woonbuurt gebly.
Sy het getuig dat sy na Jubeba se dood by die Bloemfonteinse lykshuis was waar hy uitgeken is. Sy’t gesê dat sy  sy voete deur ‘n glasvenster gesien het en dit as syne kon uitken omdat sy hom grootgemaak het. Ook dat sy té bang was om verder te kyk.
Die staat en die verdediging het vandeesweek hul slotbetoë gelewer en sal die verhoor vandag (8 Maart verdaag tot 27 Mei wanneer regter van Zyl na verwagting haar uitspraak sal lewer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button