NewsNews

Vir ons kinders in nood

’n Huis waar die kinders veilig kan voel.

Parys Gazette het gister ‘n skenking aan Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) oorhandig vir sy tussentydse veiligheidshuis vir kinders wat weens maatskaplike redes of vir veiligheid verwyder en in alternatiewe sorg geplaas moet word. is

Die veiligheidshuis is van  Vrydag 1 Maart ’n werklikheid en was vir lank ‘n groot behoefte vir die gemeenskappe van Parys en Vredefort.
In 2017/18 het die VVA 81 kinders verwyder en in alternatiewe sorg geplaas. Van hierdie is 17 kinders met onmiddellike effek verwyder weens ernstige omstandighede wat onmiddellike ingryping vereis het.
Dikwels was daar nêrens vir hierdie kinders om heen te gaan nie en moes hulle dae lank steeds trauma beleef terwyl gesoek is na ‘n versorgingshuis en plek van veiligheid.
Sedert November 2018 en Januarie 2019 is 21 sake van kinderverwaarlosing in die Parys en Vredefort gemeenskappe aangemeld. Aanvanklik word die gesin en kinders betrek by voorkomingsprogramme in ‘n poging om te verhoed dat die kinders uit hul ouers se sorg verwyder word. Hierdie voorkomingsprogramme is ‘n wetlike vereiste en nie die maatskaplike werker se besluit nie. Indien kinderhofverrigtinge wel later sou volg, moet die maatskaplike werker inligting aan die hof gee waarom sodanige voorkoming nie geslaagd was nie.
VVA Parys het tans net drie maatskaplike werkers en twee hulpwerkers. Soms moet daar bontgestaan word om ‘n veilige heenkome (Plek van Veiligheid) te kry vir kinders wat skielik en onmiddellik uit krisisomstandighede verwyder moet word.
Tussen Desember en Februarie vanjaar moes 11 kinders onmiddellik geplaas word. Alhoewel die prioriteit is om eerstens familielede te oorweeg, is dit nie altyd moontlik nie.

Juis daarom is die veiligheidshuis en doeltreffende funksionering daarvan so belangrik.
’n Huis waar die kinders veilig kan voel. Die plasingsproses kan soms baie lank vat met hofsake, vorms en ‘n magdom administratiewe take. Intussen moet die kinders kan speel, teruggaan skool toe, eet en van voor af leer leef en vertrou.

Enige huishoudelike toebehore, linne, breekgoed ensovoorts is baie nodig vir die huis om dit ‘n tuiste vir die kinders te kan maak. Kan jy help? Skenkings kan by die VVA-kantoor in Buitenstraat afgegee word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button