NewsNews

Hul vingers vertel wat gesê is

Hul vingers vertel wat gesê is.

Of dit in howe, arbitrasies, dissiplinêre verhore, insolvensie verrigtinge, Mediese Raad gedragskode ondersoeke, vergaderings of werkswinkels is. Onderhoude, kommissies van ondersoek of betoë. Selfs die bandopnames van gesprekke tussen versekeraars en hul kliënte. Wat gesê is moet op papier vasgelê word vir rekorddoeleindes. Ure en ure se oudio materiaal wat met uiterste akkuraatheid getik moet word.
Vroeër was hulle bekend as data-tiksters. Vandag is dié uitdagende beroep veel meer as net transkribering of die skriftelike weergee van dit wat gesê word.
Beslis nie ‘n maklike beroep nie, en dit kan baie alleen wees, veral vir jongmense want vir die grootste deel van jou dag is jou oorfone en die rekenaarsleutelbord jou geselskap.
Vir Yvonne Aucamp van Vredefort is die tik van hoftranskripsies, ingewikkelde mediese terme en bevindinge, of selfs die Marikana verhore geen nuutjie nie. Sy het oor jare hierdie vaardigheid met uitnemendheid bemeester en werk tans in ‘n toesighoudende hoedanigheid vir ‘n maatskappy wat voltyds op kontrakbasis transkribering doen.
’n Tipiese dag begin met oudio-opnames wat elektronies aan haar versend word. Haar dag beplan sy rondom spertye. Dit wissel van 7-10 dae, tot projekte wat op dieselfde dag van ontvangs gelewer moet word. Dit gee haar die vryheid, maar ook die verantwoordelikheid van selfdissipline om tuis te kan werk en self haar tyd te bestuur.
Yvonne werk meestal op haar eie, maar soms word projekte ook as ‘n span hanteer. Sy maak seker transkripsies word verdeel tussen haar spanlede en kontroleer tussendeur haar eie transkribering, ook spanlede se voltooide werkstukke.
Die kuns is om elke oudio-opname woord vir woord te tik in die formaat van die kontrakteur vir wie jy werk, binne die gegewe spertyd. Transkribeerders in haar veld werk met hoogs gespesialiseerde vakterme en is 100% akkuraatheid, 100% korrekte spelling en die korrekte annotasies van groot belang.
Verbeel jou dat jy as blinde na ‘n gesprek moet luister en dit dan op papier moet weergee met die regte aanhalings by die regte persone.
Yvonne vertel dat jare se ervaring jou leer om jouself in die gesprek te kan plaas, en fyn te luister na stemme. Haar beroep verg baie naslaanwerk op die internet om seker te maak terme wat jy hoor word korrek getik. Al die spanlede wat aan ‘n projek werk se transkribering van terme moet ooreenstem.
Vir elke twee minute se oudio word gemiddeld 1 bladsy getik, en tik ‘n gemiddelde tikster 10 bladsye per uur. Daarom is vinnige, akkurate vingers ‘n besliste moet.
Wat transkribering ‘n uitstekende beroepskeuse maak in ‘n uitdagende arbeidsmark vandag, is dat as jy oor die korrekte vaardighede beskik en goed is in jou werk, jy ‘n goeie inkomste in die gerief van jou eie huis kan verdien – selfs in die platteland. Daar is geen ouderdomsperk nie. Jy kan onafhanklik werk en jy bepaal jou eie behoefte. Hoe meer jy werk, hoe meer kan jy verdien. “Jy begin elke maand met niks en bou jou eie inkomste op vir die maand.”
Tegnologie is vandag ‘n groot hulpmiddel in die beroep. Vroeër jare is bandopnames byvoorbeeld direk van die hof gekry. Vandag kan opnames vinnig via die internet gestuur word soos wat dit beskikbaar is.
Vaardighede van ‘n transkribeerder
* Jy moet 100% akkuraat kan tik.
* Uitstekende luistervermoë.
* Uitstekende taalvaardigheid.
* Jy moet jou program en internet hulpmiddels ken. Sy werk op Word en Olympus.
*Selfdissipline en inisiatief hê
* Onafhanklik kan werk.
Vereistes:
* Jou eie rekenaar, toegang tot betroubare internet, en toepaslike programme.
* Goeie oorfone en ‘n voetpedaal wat jy saam met jou oudio-program gebruik.
* As jy reeds in ‘n prokureurskantoor gewerk het, sal dit jou beslis help.
‘n Loopbaan in transkribering
As jy belangstel in data-transkribering is die beste om by howe die name te kry van firmas wat vir hul transkribering doen. Jy kan ook op die internet oplees watter maatskappye op kontrakbasis transkribering vir die staat en private sektor doen. Opleiding word deur sommige van die maatskappye gegee.
Meer oor Yvonne:
Yvonne het in Westonarea grootgeword en na skool in die Trustee-afdeling by Standard Bank gaan werk waar sy hoofsaaklik testamente getik het. In 1980 is sy as ontvangsdame by ‘n prokureursfirma in diens geneem en het in 2002 die tuig neergelê as aktebestuurder. Sy het tussen 1989 en 1995 as transkribeerder vir DataVyf begin werk waar sy ook haar opleiding gekry het, en sedertdien is transkribering haar voltydse beroep.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button