NewsNews

Huisouers met ’n liefde vir kinders nodig by veiligheidshuis

Dikwels was daar nêrens vir hierdie kinders om heen te gaan nie en moes hulle dae lank steeds trauma beleef terwyl gesoek is na ‘n versorgingshuis en plek van veiligheid.

Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se tussentydse veiligheidshuis vir kinders is vanaf Vrydag 1 Maart ’n werklikheid. Hierdie huis was vir lank ‘n groot behoefte vir die gemeenskappe van Parys en Vredefort, as veilige plek vir kinders wat weens maatskaplike redes of vir veiligheid verwyder en in alternatiewe sorg geplaas moet word.
In 2017/18 het die VVA 81 kinders verwyder en in alternatiewe sorg geplaas. Van hierdie is 17 kinders met onmiddellike effek verwyder weens ernstige omstandighede wat onmiddellike ingryping vereis het.
Dikwels was daar nêrens vir hierdie kinders om heen te gaan nie en moes hulle dae lank steeds trauma beleef terwyl gesoek is na ‘n versorgingshuis en plek van veiligheid.
Sedert November 2018 en Januarie 2019 is 21 sake van kinderverwaarlosing in die Parys en Vredefort gemeenskappe aangemeld. Aanvanklik word die gesin en kinders betrek by voorkomingsprogramme in ‘n poging om te verhoed dat die kinders uit hul ouers se sorg verwyder word. Hierdie voorkomingsprogramme is ‘n wetlike vereiste en nie die maatskaplike werker se besluit nie. Indien kinderhofverrigtinge wel later sou volg, moet die maatskaplike werker inligting aan die hof gee waarom sodanige voorkoming nie geslaagd was nie.
VVA Parys het tans net drie maatskaplike werkers en twee hulpwerkers. Soms moet daar bontgestaan word om ‘n veilige heenkome (Plek van Veiligheid) te kry vir kinders wat skielik en onmiddellik uit krisisomstandighede verwyder moet word.
Tussen Desember en Februarie vanjaar moes 11 kinders onmiddellik geplaas word. Alhoewel die prioriteit is om eerstens familielede te oorweeg, is dit nie altyd moontlik nie. Juis daarom is die veiligheidshuis en doeltreffende funksionering daarvan so belangrik.
’n Huis waar die kinders veilig kan voel. Die plasingsproses kan soms baie lank vat met hofsake, vorms en ‘n magdom adminis-tratiewe take.
Intussen moet die kinders kan speel, teruggaan skool toe, eet en van voor af leer leef en vertrou. Dit is hier waar goedgekeurde versorgers wat tydelik na die kinders kan omsien in gekontroleerde omstandighede, nou nodig is.
Mense wat werklik hul gawes van bereidheid om te help kan deel, ter wille van kinders wat die skadukant van die lewe ken.
VVA soek dringend na ’n huisouerpaar of huismoeder wat ’n hart het vir kinders.
Handig ’n kort CV met verwysings/aanbevelings in by VVA se kantoor in Buitenstraat.
Enige skenkings om die huis toe te rus, hetsy kombuisbenodigdhede of wat ook al, is baie welkom en kan by VVA se kantoor in Buitenstraat afgegee word. Daar word staatgemaak op die publiek se ondersteuning.

Related Articles

Back to top button