NewsNews

Driehoek-tragedie: ‘n Ma onthou die angsdag se gebeure

Vandag, presies ‘n maand gelede, is die Vaaldriehoek en die res van die land geruk deur die tragedie toe ‘n oorhoofse betonstruktuur wat skoolgeboue met mekaar verbind het, inmekaar gestort en tot die dood van vier kinders gelei het. Verskeie ander kinders is beseer, van wie sommige steeds in hospitale behandel word.

Mev. Lucille Olivier, ‘n ouer van Hoërskool Driehoek, het haar herinneringe oor 1 Februarie 2019 se gebeure onlangs met Solidariteit gedeel. Vaalweekblad plaas ‘n uittreksel uit haar vertelling hier onder:

My naam is Lucille Olivier en ek is ‘n mamma van Hoërskool Driehoek.

Hoewel ek as individu hier sit, is ek seker dat ek vandag namens alle ouers in Suid-Afrika praat. Ons staan saam geskok, sprakeloos, angstig en onseker.

1 Februarie se tragedie by my kind se skool het binne sekondes my aakligste nagmerrie ‘n realiteit gemaak.

‘n Betonblok het by die skool geval en vier kinders is dood. Hulle is op die grusaamste manier dood. Hulle is in die fleur van hulle lewe dood. Daar was beton en baie bloed. Van die beserings wat die ander kinders opgedoen het, is beserings wat huisgesinne se dinamika vir altyd gaan verander.

Dit kon my kind gewees het – hy was so naby en het gesien hoe sy vriende tussen deur die bloed onder die betonblok vasgekeer is. Hy het gehoor hoe hulle hulpeloos om hulp én van pyn skree. My kind was baie naby aan die ongeluk. Ek sidder steeds.

My foon het om 08:30 die oggend gelui. Dit was Stephan. Ek het eers gedink hy bel omdat hy iets by die huis vergeet het – maar toe kom sy angsbevange stem deur. “Ma, ‘n betonblok het by die skool geval, maar ek is okey. Mamma, maar daar is ander kinders wat baie, baie seer gekry het.”

Dit het dadelik deur my kop gemaal wie van sy maats het seer gekry en of dit regtig so ernstig kan wees?

Ek meen, ons as ouers het almal daardie oggend ons kinders by die skool afgelaai. Hulle was okey. Ons het gesoen en gewaai. Die droom van hulle belowende toekoms het helder geskitter. Die dood was die laaste gedagte in ons koppe.

Mens dink nie aan jou kind se dood nie, en nog minder aan so ‘n grusame dood.

Die volgende oomblik het my foon mal gegaan en almal wou weet of Stephan okey is. Stephan is fisies okey, maar emosioneel deur ‘n hel wat nie eers ek kan begryp nie. Hulle almal is.

My vriendin se tweelingseuns was ook meters weg toe die betonblok geval het. Roydon Olckers was hulle vriend. Hulle het met alle mag probeer om die betonblok op te tel, maar hulle kon dit nie regkry nie. Hulle boesemvriend is grusaam voor hulle dood. Die toneel speel oor en oor.

Die klank van ambulanse en helikopters in die lug het die erns van die situasie bevestig. Daardie oomblik van besef het alles in my lyf laat begin ruk en bewe. Ek was naar.

Toe ek Stephan sien, het ons mekaar net omhels en begin bid. Bid om dankie te sê, bid om te troos. Ek was so dankbaar dat ek hom kon omhels.

Vrydag 1 Februarie 2019 was ‘n ongekende aaklike dag in ons as ouers van Hoërskool Driehoek se lewens. Dis die dag wat alles verander het.

Hoewel ek genadiglik ‘n tweede kans gegun is om op daardie dag my seun te kon vashou en vir hom te sê ek is lief vir hom, kan ek nie die nagmerrie wat herhaaldelik in sy kop afspeel wegneem nie. Ek kan nie die gru-toneel en die verwyte van “as ek net meer gedoen het” wegneem nie. Ek kan nie sy seer beter maak nie. Ek kan nie vir die ouers wat hul kinders verloor het, sê dinge gaan regkom nie.

Ek as ouer en Suid-Afrikaner is absoluut gewalg deur die BLF se Lindsay Maasdorp se uitsprake van lekkerkry en feesvier op sosiale media na die nuus dat vier wit kinders in die ongeluk dood is.

Hierdie tragedie is nie ‘n sekere ras se tragedie nie – wit en swart kinders het seergekry. Wit en swart kinders het saam gehuil. Hulle almal is óns kinders.

Dit is ons álmal se tragedie.

Maasdorp se skokkende sentiment is afskuwelik. Daar is werklik nie woorde om die seer te beskryf nie.

Ek steun Solidariteit se klag teen hom.

As gemeenskap is ons harte saam met elke ouer wat ‘n kind verloor het, of wie se kind beseer of getraumatiseerd is, stukkend. Ouers is nie veronderstel om hul kinders te verloor nie. Deur die trane kyk ons ook met dankbaarheid na ‘n gemeenskap wat mekaar omvou het. Duisende mense het mekaar vertroos en gebid. Vaaldriehoek en Suid-Afrika se trane het die afgelope ruk nie grense geken nie. Ons het mekaar omhels en vasgehou, sonder om enige onderskeid te tref. Hierdie vashou het oorgespoel na die hele land. Mense van oraloor het geskryf, blomme gestuur, geld geskenk en al die ouers en kinders wat soveel trauma beleef het in hul gebede opgedra. Daarvoor kan ons vir Suid-Afrika net sê baie, baie dankie.

Midde-in hierdie hartseer en troos het die uitsprake van die BLF-verteenwoordigers ons soos ‘n dolk in die hart getref. Om die dood van kinders te verwelkom, om te sê dit is ‘n goddelike ingryp om van toekomstige probleme ontslae te raak, het seer gemaak – baie, baie seer. Dit is wel ‘n troos dat die BLF-uitsprake randuitsprake was. Dit is oorspoel en oorweldig deur ongelooflike ondersteuning oor verskeie grense heen.

Mense wat sulke uitsprake maak, moet egter tot verantwoording geroep word. Die reg moet sy gang gaan. As ons dit net daar laat, dan maak ons dit aanvaarbaar en normaal. Ons moet ook ‘n volgende generasie Suid-Afrikaners wat deur sulke uitsprake gekrenk word, beskerm.

Hierdie regsaksie is nie net namens ouers wat op verskeie maniere getraumatiseerd is nie, maar namens almal wat die afgelope ruk deur liefde gewys het dat die uitsprake nié die Suid-Afrika is wat ons wil hê nie. Die regsaksie is nie uit wraak, bitterheid of vergelding nie, maar uit ‘n diep gevoel van geregtigheid. Ons vertrou dat hierdie hofaksie sal bydra tot ‘n Suid-Afrika waar almal mekaar se trane sal deel en ons doen dit met ‘n duidelike boodskap dat ons niemand sal toelaat om ander se trane te steel nie.

  • (Gesprek opgeteken deur Mia Slabbert van Solidariteit).

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button