NewsNews

Vier sterf, vrou steeds kritiek

Vier sterf, vrou steeds kritiek

Vir Trudy Deale van Parys wag daar nog ’n lang pad na herstel ná die dubbele ongelukstragedie verlede Donderdag op die R721 tussen Vredefort en Kroonstad. Sy was vandeesweek steeds in ‘n kritieke toestand met verskeie beenbreuke en veelvuldige beserings in ’n Bloemfonteinse hospitaal, waar sy Dinsdag weer geopereer sou word.
Vier mense is in die dubbele botsing oorlede, onder wie ook Trudy se man, Jimmy (64). Jimmy word Maandag 4 Maart om 14:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk in Parys begrawe.
Naas Jimmy is ook Richard (Butch) Roberts (69) van Parys, en me. Ntaoleng Elisa Khotle (59) van Vredefort, asook mnr. Sipho Philmon Ndlebe (25) van die EMS High Care Ambulansdiens in die ongeluk oorlede.
Abri Smit, ‘n boer van Kroonstad, het aan Gazette vertel dat hy net na 05:00 die oggend die oorverdowende slag gehoor het. Hy is na die toneel waar hy Richard gekry het, besig om hulp te verleen aan die beseerde man in die ambulans. “Ek het nog vir hom my Leatherman gegee om ‘n band van ‘n noodhulpsak los te sny, sodat die beseerde man se voet gestut kon word.”
Richard was op pad na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad vir ’n opvolgbesoek en behandeling nadat hy verlede jaar met kanker gediagnoseer is. Hy was die eerste om op die ongelukstoneel te stop. Onderwyl Richard en Abri nog hulp verleen het, en probeer het om aankomende verkeer te waarsku, het ‘n pendelbus van die Vrystaatse Provinsiale Ambulansdiens waarmee pasiënte vervoer word, in die omgeslane ambulans vasgery en ook met ‘n vragmotor in die aankomende baan gebots. Richard is in dié ongeluk noodlottig beseer.
Van die nege insittendes van die pendelbus is twee oorlede en verskeie ernstig beseer.
“Richard het sy laaste asem gegee om iemand se lewe te red voordat sy lewe van hom weggevat is. My hart is seer. Ek het hom net twee minute geken. Hy was ‘n held,” het Abri na die ongeluk gesê.
En só ’n mens was Richard. Iemand wat altyd positief was, altyd ’n grappie gehad het, iemand wat geleef het om vir sy medemens iets te kon doen, en wie ’n onbeskryflike liefde vir die natuur, die buitelewe en diere gehad het. Iemand wat voluit geleef het, en sy familie so liefgehad het. So sou hy nóg ’n verjaagdagkoek vir sy vrou, Jenny, kom bak het, as hy teruggekom het van Kroonstad. Maar die Here het ’n beter plan vir Richard gehad, het Jenny oor haar eggenoot en maat van 46 jaar gesê.

Naas Jenny word Richard oorleef deur sy kinders, Terry en Debbie, kleinkinders, susters en broer.

Wyle Richard (Butch) Roberts.

Jimmy se seun, Ian, het vertel dat sy pa die oggend Bloemfontein toe sou gaan om te hoor wanneer sy heupvervanging gedoen sou word. Trudy het saam met hom gegaan omdat hy swaar geloop het. “Waar hy gegaan het, het sy gegaan. Mekaar se se sielsgenote.”
Jimmy is in Parys gebore en het hier grootgeword en skoolgegaan. Hy was ’n familiemens wat sy alles sou gee vir sy familie, het Ian gesê. “Sy dood was ‘n groot skok vir ons.” Jimmy word oorleef deur Trudy, sy drie kinders en kleinkinders, broers en susters.

Foto: Jimmy Deale wat in die ongeluk gesterf het, en sy vrou Trudy, wat ernstig beseer is. Sy is steeds in ‘n kritieke toestand. Die foto is geneem op die egpaar se troudag 6 jaar gelede.
* As daar enigeen is wat Trudy se familie kan help met verblyf in Bloemfontein sodat hulle by haar kan wees, skakel asseblief haar dogter Elsabe by 076 930 4777.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button