News

Subtitelskryf: Taalrakvat op ’n skermgreep

Beslis meer as net ‘n werk!

Vroegaand pla jy nie, want as die sepiedeuntjie speel sit ons reg. Onderaan die skerm flits die subtitels verby. Maak hul die deure oop en nooi ander taalsprekendes om saam te kyk…want “buite in die strate, bars Jakarandas uit hul nate….”
Vir die afgelope 10 jaar is die subtitels wat jy aand vir aand op die Binnelanders-sepie lees, die handewerk van ’n vrou van Parys, Linda Minnaar, en haar twee kollegas.
Linda is ‘n subtitelskrywer wat vertel hoe dié beroep taalraakvat en jou liefde vir die filmbedryf bymekaar bring.
Die subtitels word op ’n spesiale program geskryf om dit op die visuele beeld wat kykers sien, te plaas.
Sy en haar kollegas ontvang elke episode en die teks wat dan volgens hul eie diskresie vertaal word.
Dit verg ‘n fyn taalaanvoeling en taalkennis om pleks van woord vir woord, eerder die betekenis van die Afrikaanse teks vir Engelssprekende kykers te gee.
Die kyker moet in een oogopslag kan verstaan wat gesê word binne die beperkte skermruimte en reëls vir subtitelplasing, vertel Linda.
Wanneer sy klaar is, word haar vertaling deur ’n meer senior vertaler en ’n redigeerder nagegaan, nie net vir inhoud nie, maar ook vir die vloeitempo saam met die skermbeelde.
Vir elke een minuut wat die kyker op die skerm sien, neem dit ’n uur om te vertaal.
Vir Linda is dit ’n beroep met opwindende uitdagings. Voortdurend nuwe karakters en ander maniere van praat wat geakkommodeer moet word in die teks. Voeg daarby die verskillende stemtone, ritme, taalgebruik en dat tred gehou moet word met taalmodes en Afrikaanse spreektaal – en jy’t ’n kleurvolle taalmengelmoes waarmee sy en haar span hul Engelse kykers, maar ook dowes, moet laat deel voel van die Binnelander-kring.
Haar grootste tammeletjie is karakters wat baie vinnig praat. Die lekker van subtitelskryf is dat elke dag anders is. Linda werk meestal van die huis af, maar sy moet ookgereeld ateljee toe waar sy noue kontak het met die subtitel-span om seker te maak hul taal- en skryfstyle bly in pas met wat nodig is vir die sepiekarakters.
Jou kykers is baie skerp, vertel Linda. Die geheim is om kritiek te kan hanteer, dit te gebruik en daaruit te leer.
Vaardighede:
In dié bedryf is ’n vertrouensverhouding baie nodig omdat subtitels vooruit geskryf word. Jy moet onder druk kan werk, en by sperdatums kan hou. Ten volle tweetaligheid is ’n verdere vereiste. En dan is ’n liefde vir die filmbedryf ’n pluspunt.
Opleiding word meestal deur die maatskappy in wie se diens jy is, gegee.
Hou egter in gedagte dat subtitels ook vir ander tale en ander programme geskryf word. Moet dus nooit ’n kans laat verbygaan om ’n taal te leer nie.
As jy in subtitelplasing belangstel sal jou eerste stap wees om met ‘n filmmaatskappy kontak te maak. Vandag is daar, hoewel steeds beperk, meer geleenthede as vroeër jare.
Meer oor Linda:
Linda is getroud met die akteur, Louis Minnaar. Die egpaar het ’n dogter, Linsy, en twee kleindogters.
Hulle is die afgelope 8 jaar in Parys. Sy het drama studeer en was aanvanklik dosent. Toe hulle Johannesburg toe verhuis, het sy akteur-wees op die proef gestel maar besef dit is nie vir haar nie. Sy wou agter die skerms werk.
In die dae toe programme oorgeklank is, was sy ’n bandskrywer vir die SAUK, maar vandag word subtitelplasing pleks van oorklanking gedoen.
Sy het in 2009 begin subtitels skryf vir Binnelanders. Haar gunsteling karakters is dr. Annelize (Cindy Swanepoel) en Karli (Pascal Pienaar). Linda was op skool al lief vir tale en omdat sy die filmbedryf ken en verstaan, het dit in haar guns getel. Jare se ervaring as subtitelplaser het haar die fyn aanvoeling geleer van die tempo van teksplasing.
Beslis meer as net ‘n werk!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button