CommunityNews

Meer as ’n myl se daarwees vir mekaar

Hul grootste wens - om hierdeur aan individue en hul families en vriende wat geraak word deur kanker, ‘n boodskap van hoop te gee. “Jy is nooit alleen nie.”

Met elke asemteug, elke keer wat hulle na mekaar gekyk het, het hulle geweet – hulle is daar vir mekaar. Ook as die stroom hulle van mekaar wou wegtrek. “Buddies” wat mekaar nie sou los nie – want moeilike goed doen jy nie alleen nie.
So het Hennah van Wyk en Corné le Roux, saam die Midmar-myl op 10 Februarie voltooi. ‘n Droom wat oor meer as klaarmaak gegaan het.
Dit was die maande se naby-wees vir mekaar, ’n geloofspad van vertroue en voluit gaan vir môre. Dit was oorwinning, en die groen van lewe…
’n Myl wat voltooi is na ‘n besondere pad wat dié twee vroue saamgeloop het. ’n Pad saam met die woord kanker.
‘n Pad wat op ‘n dag in 2016 begin het met ‘n oproep van Corné. Hulle sou gaan koffie drink. Hennah pas klaar met haar behandeling, en Corné toe net gediagnoseer met borskanker.
Daardie kanker wat jou siel seerder maak as jou lyf. Jou diepste vrouwees, alles wat nog altyd jou identiteit was – en dan word dit diep geskud en gebreek.
Dit was die begin van ‘n pad van genesing en inspirasie.
Ja, daar was dae wat hulle bang was, maar dit was dae van deel. Gedeelde ervarings, gedeelde vrese, gedeelde pyn, gedeelde moedskep oomblikke. Wanneer “buddies” vir mekaar kan kyk en kan sê ek is daar vir jou. Vir mekaar kan sê, “Jesus is daar vir jou”.
Dwarsdeur hul behandeling het hul voluit gegaan vir elke dag.
As jy sit en wag verloor jy tyd, want kanker het ‘n manier om sy vrees soos ‘n mantel om jou hart te vou, en soos ‘n skaduwee saam met jou te loop. Soos die dag in 2018, toe Corné weer met behandeling moes begin. Steeds is dit nie weg nie, en wag nog ‘n lang pad vir haar. ‘n Pad waarmee sy vrede het.
Byna soos die ongelooflike vrede wat sy ervaar het in daardie myl se swem. “Telkens as ek my arm oplig en ek sien jou, lei jy my”.
Met daardie eerste koffie-drink het Corné gesê dat sy die Midmar wou swem, maar dit het ’n eendag-gedagte gebly. Tot die dag wat kanker ‘n tweede keer oor Corné se pad gekom het, en hulle besef het – die Midmar sal hulle swem!
Eers “saggies” oefen, al dra hul die littekens van genesing as jy geskend is van binne en buite, en toe die onsekerheid – sou hul gereed wees, so kort na Corné se chemo.
En hulle was. Saam kon hul klaarmaak in 47:29, en Oktober gaan hulle die Sun City myl doen.
Hul grootste wens – om hierdeur aan individue en hul families en vriende wat geraak word deur kanker, ‘n boodskap van hoop te gee. “Jy is nooit alleen nie.”
Vir Corné was hierdie haar eerste Midmar – vir Hennah haar agtste, maar dié een was anders. Dit was Corné se Midmar. ‘n Myl met arendsvlerke vir hulle wat op Hom vertrou…
“Met die toename in die voorkoms van kanker by selfs jongmense, wil ons vroue in ons gemeenskap aanmoedig om gereeld vir ondersoeke te gaan.”
“Moenie uitstel omdat jy bang is vir die uitslag nie.”
“Vroeë diagnose kan jou kans op genesing drasties verhoog.”
– Hennah en Corné

Related Articles

Back to top button