NewsNews

Kry jou eende in ’n ry vir ’n swem vir die vale

Kry jou eende in ’n ry vir ’n swem vir die vale

Nie die lelike eendjies nie, maar ’n hele versameling plastiek eendjies, sal Saterdag, 2 Maart om 12:00, in die Vaalrivier losgelaat word vanaf die Potchefstroom-brug by die Hartelus mark by Egweni in Van Collerstraat, Parys.
Dié eendjies sal die NG gemeente Vredefort help om fondse in te samel.
Die organiseerders beloof hope pret vir omstanders. Daar sal professionele ‘Duck Race’ spanne in die water wees, wat sal sorg dat die eendjies koers hou, niemand dalk ’n eendjie ’n onregverdige voorsprong gee nie, en geesdriftige ondersteuners in toom gehou word. Hierdie spanne sal ook die weneendjies uitvang.
Honderde aanhangers word op die walle van die Vaalrivier verwag om die eendjies aan te spoor tot topprestasies en rekordtye!
Daar is pryse op die spel vir die superste van ‘super ducks’!
Moet nou nie dat hierdie geleentheid soos water van ’n eend se rug afrol nie!
Om deel te neem, moet jy ’n eendjie borg, deur ’n kaartjie te koop teen R50. Jou eendjie word genommer en jy moet daar wees om hom aan te moedig!
Vanjaar word die eende van oraloor die wêreld geborg, daarom die benaming “Internasionale Duck Race”. Die eende se vordering gaan met groot belangstelling dopgehou word via ‘live streaming.’
Dalk kan jy regtig nie Saterdag self by die rivier wees nie. Moenie moed verloor nie. ’n Halwe (eend) eier is beter as ’n leë dop! Koop net ’n kaartjie, of sommer ’n hele boekie vol kaartjies sodat jy ’n hele span eendjies in die rivier het. As jou eendjie wen, sal die organiseerders jou soek totdat hulle jou kry.
Daar sal Saterdag nog kaartjies (en eendjies) te koop wees by die Hartelus mark. Onthou – die resies begin 12:00. Kry dus jou eendjies in ’n ry en moenie laat slaap nie!
Weneende en hul eienaars, sal in volgende week se Gazette aangekondig word.
Skakel die kerkkantoor by 056 9310 121 om kaartjies te koop.

Related Articles

Back to top button