NewsNews

Ouditeursverslae lees soos rillers

Uitstaande krediteure beloop reeds meer as R1 miljard.

Die verslae van die ouditeur-generaal (OG) vir die Ngwathe Munisipaliteit se finansies en prestasie vir die 2017/2018 finansiële jaar lees soos rillers.” So sê VF Plus raadslid, Phillip van der Merwe, ‘n Heilbronse prokureur. Die verslae is by ‘n spesiale raadsvergadering op 31 Januarie deur burgemeester Joey Mochela ter tafel gelê. Die munisipaliteit is volgens sy finansiële state totaal bankrot met laste wat sy batewaarde met R354 miljoen oorskry. Die jaar toon ‘n verlies van R188 miljoen.
Uitstaande krediteure beloop reeds meer as R1 miljard. “Wat weer eens veral kommer wek, is die OG se reeks bevindings dat amptenary wetlike prosesse nie nakom nie en dat daar op talle terreine nie behoorlike stelsels in plek is om monitering te kan doen nie,” sê rdl. Van der Merwe verder. “Die resultaat hiervan is dat die OG se bevinding ‘n weerhouding van ouditmening is. Die munisipaliteit faal volgens die bevinding ook totaal as lopende saak.”
In die verslag word bevind dat alle onreëlmatige uitgawes nie in die state vervat is nie en dat die OG dit prakties onmoontlik gevind het om die korrekte syfer te bereken. Daar is wel ‘n bedrag van R97,1 miljoen in die state getoon. Die state toon voorts vrugtelose uitgawes van R35,6 miljoen, en ongemagtigde uitgawes van R168,1 miljoen onderskeidelik.
Tydens die raadsvergadering waar die verslag ter tafel gelê is, het rdl. Van der Merwe ernstige kritiek uitgespreek oor die toestand waarin die munisipaliteit homself bevind.
Hy het uitgewys dat die VF Plus verlede jaar reeds ‘n hoëhof bevel teen Ngwathe bekom het om die Raad te verplig om onreëlmatige-, ongemagtigde- en vrugtelose uitgawes voortspruitend uit die 2017 boekjaar deeglik te laat ondersoek deur ‘n wetlik voorgeskrewe proses sodat persone wat verantwoordelik is vir verliese deur die munisipaliteit as gevolg daarvan, aangespreek kan word om vir die skade te vergoed.
“Geen verslag oor die kwessie is tot op datum aan die Raad voorgehou nie, en hy het gemaan dat stappe weens minagting van die hofbevel en selfs ‘n verdere aansoek kan volg indien daar nie nou dringend erns gemaak word met die ondersoek van al sulke uitgawes, insluitend dié in die state van die 2018 jaar uitgewys nie. Raadslid van der Merwe het ook aangedring dat raadslede tot ‘n groter mate by bestuursprosesse en –besluite betrek word aangesien dit volgens hom duidelik is dat amptenare op hul eie nie die mas opkom nie. Burgemeester Mochela het dit ondersteun.
Die Openbare Munisipale Rekeningekomitee moet nou die sake deur die OG opgehaal deeglik en omvattend ondersoek en binne 60 dae volledig daaroor aan die Raad verslag doen. “Besluite oor regstellende optrede sal dan geneem word” sê rdl. Van der Merwe

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button