NewsNews

Uit die hart van ‘n onderwyser: Ons is net vir mekaar geleen

Jy, as onderwyser, word onwillekeurig deel van soveel van hulle se stories en lewens en jy lê soms nagte wakker oor een van "jou" kinders.

Ek is ‘n onderwyser en ‘n mamma, nie net ‘n mamma vir my eie kind nie, maar ook vir soveel kinders wat deur die jare voor my in klasse gesit het. Jy, as onderwyser, word onwillekeurig deel van soveel van hulle se stories en lewens en jy lê soms nagte wakker oor een van “jou” kinders. Jy word deel van hulle blydskap, hulle trane, soveel aspekte van hulle lewens….jy spandeer soms meer tyd met “jou” kinders as wat hulle ouers doen, hulle word deel van jou menswees en hulle suksesse word ook jou blydskap en trots.
Vanaand sit en dink ek aan al die onderwysers van Driehoek, ek kan my nie hulle gebrokendheid, magteloosheid en absolute hartseer indink nie. In  ‘n oogwink is van hulle kinders se lewensdraadjie geknip, soveel het bitter seer gekry, ek wonder hoeveel sit met “as ek maar net…” en “kon ek iets gedoen het…” wat in hulle koppe maal. Sjoe…dit moet verskriklik wees…my hart breek vir hulle wat die tragedie moes aanskou…rou pyn en vars bloed en jy kan niks doen om dit te verander nie. Ek bid vir elkeen van daardie onderwysers, elke kind in daardie skool en elke liewe ouer…so aaklige hartseerdag wat jou hele perspektief verander.
More gaan ek skool toe, my skool waar ek skool hou, ‘n skool met sy eie goeters en dinge, maar sonder die puin, hartseer en bloed wat stil getuienis is van ‘n verskriklike Vrydag in Februarie nie. Ek gaan more my kinders sien, gesiggies groet wat lag na ‘n naweek en ek gaan dankbaar wees dat so iets my gespaar is, my kinders gespaar is en my kollegas gespaar is…ek gaan oor die draadwerk, politiek en tierlanteintjies kyk wat so nietig en irrelevant is in vergelyking waardeur die mense van Driehoek gaan en ek gaan opkyk Boontoe en net “Dankie Jesus vir nog ‘n dag propvol genade” sê.
Ons is almal net vir mekaar geleen, wees dankbaar, wees lief, vergeet die simpel rusies, vergewe en leef jou lewe…niemand van ons weet wat wag in ons toekoms nie, net God alleen, rus elke dag jou hand in Syne sodat Hy jou kan toerus vir wat ookal wag en jou en almal om jou beskerm en in Sy liefde omvou.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button