NewsNews

PurrPaws diereskuiling brand

JANNIE DU PLESSIS – VAALWEEKBLAD

 

VILJOENSDRIF. – Om +/- 900 honde te hoor tjank en blaf en ‘n klomp katte paniekerig te sien rondskarrel tydens ‘n brand terwyl hulle mense-mamma, histeries en geskok alles in haar vermoeë doen om te red waar sy kan, is enige diereliefhebber se grootste nagmerrie.

Lindie van Rooyen, eienaar van die  ‘PurrPaws for Life’ diereskuiling op plot 9 by die Vaalpower-kleinhoewes waar sy vir sowat 900 honde en ‘n hele aantal katte skuiling bied, was gisteraand 30 Januarie, geweldig geskok toe die hoofhuis op die hoewe afgebrand het. Volgens Lindie was daar sowat 100 honde in die huis en het omtrent 30 doodgebrand. Al die honde- en katkos was in die huis en tans is daar ook geen water nie as gevolg van die brand. Lindie het ligte brandwonde opgedoen toe sy van die honde in die huis probeer red het. Sy is volgens inligting vanoggend, 31 Januarie, hospitaal toe geneem vir rookinaseming, aangesien sy nie gisteraand die skuiling wou verlaat nie.

Sowat 150 mense van oral oor het kom hand bysit. Boere van omliggende plase het waterkarre en watertenks aangery om die Metsimaholo-brandweer te voorsien van water. Vrywilligers het gehelp om honde na ander hokke te skuif. Van die beseerde honde is geneem vir behandeling. ER24 paramediese personeel het gehelp om beseerde en uitgeputte honde te red. Lede van die publiek en die SPCA van Vanderbijlpark en Vereeniging het gehelp om die honde aan vrywilligers te gee wat die diere sal kan versorg vir tyd en wyl.

Stringe voertuie het heen en weer van en na die kleinhoewe gery om die diere veilige skuilings by hul wonings te bied. By die hek het lede van die publiek toue gestaan om van die diere te neem vir versorging. Daar is ‘n kontrolepunt by die hek opgestel en honde is aan pleegfamilies uitgeboek.

En die hartseerste van alles, hier en daar het die lewelose karkasse van verbrande babahondjies en volwasse honde gelê.

Indien die Vaal se inwoners reageer soos hulle die chaotiese nag van 30 Januarie vir Lindie en haar diere gehelp het, kan die Vaadriehoek enige ramp hanteer.

LEES MEER IN VAALWEEKBLAD VAN 6 FEBRUARIE

Related Articles

Back to top button