NewsNews

il Quattro:Welverdiende ruskans na meer as 200 konserte

il Quattro:Welverdiende ruskans na meer as 200 konserte

Hulle is op pad terug na meer as 200 konserte waar hul gehore op die Spaanse eiland Mallorca en die Kanariese eilande vir nege maande gaande gehad het.
Die Suid-Afrikaanse groep, il Quattro, waarvan Parysenaar Tiaan Strauss die jongste lid is, bestaan reeds die afgelope 10 jaar en groeplede het gewissel oor die jare. Hulle sing ligte klassieke musiek as debuut vir die groep il Divo, en sing in Spaans, Italiaans en Engels.
Die groep bestaan naas Tiaan uit Gustav Smit van die Paarl, MJ Kellerman van Wolmaransstad en Mario Lategan van Bloemfontein.


Na hul baie suksesvolle konsertprogram in Mallorca gedurende 2018, is ‘n drie maande verlenging van hul kontrak geteken, en kon die groep nog gehore bekoor.
Een van die groeplede, Mario Lategan, moes egter toe sy aandag aan besigheid in Suid-Afrika gee en kon nie saam met die res van die groep die verlengde kontrak doen nie. Luciano Angelo Bruno, het daarna sy plek volgestaan vir die laaste paar maande.
Die groep het op 1 November 2018 na die Kanariese eiland, Fuerteventura, gereis en ‘n verdere 40 konserte daar voltooi.
Fuerteventura is woestyn-eiland, maar beeldskoon, gesels Tiaan.
“Mens kan soms die landskap verwar met dié van die Karoo. Wat die eiland en die res van die Kanariese eilande heeltemal uniek maak, is die verspreide vulkaniese kraters.”
il Quattro het hul goed van hul taak op die Kanaries gekwyt, en is op aanvraag na ‘n tweede Kanariese eiland, die keer Tenerife, genooi om die siklus van hul toer in Januarie 2019 te voltooi.
Tenerife het volgens NASA en UNESCO die derde grootste aktiewe vulkaan in die wêreld en is 7500m bo seespieël met 13 mikro klimate. Dit word genoem El Teide.
Die grootste en naas grootste vulkane in die wêreld is in Hawaii.
Die verlengde kontrak was ’n uitdaging op sy eie vir groeplede veral waar dit by gesondheid gekom het. Tiaan vertel dat die Kanariese eilande die natuurverskynsel, Kalima, gedurende die wintermaande ervaar. Sand vanaf die Sahara woestyn waai dan oor die eilande en raak so intens dat die sand soms die son ‘uitblok’. Vir enige sanger om met sand in jou keel en geblokte sinusse te sing, is bykans onmoontlik, gesels hy.
Maar ten spyte hiervan kan die groep met trots sê pleks van die 144 beplande konserte, hulle die seisoen ’n volle 210 konsert kon voltooi.
‘n Hoogtepunt en mylpaal vir Tiaan in sy loopbaan was om ‘n CD te kon opneem saam met sy drie buitengewoon talentvolle groeplede wat hy vertel al familie geword het die afgelope maande. ‘n CD wat nou deur honderde mense in Spanje, Italië, Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, asook verskeie ander lande gespeel word.
il Quattro is op 5 Februarie terug in Suid-Afrika vir ’n welverdiende ruskans.
Daarna mag ’n volgende toer na Mallorca in Mei vanjaar dalk weer op die groep wag.
Gaan luister gerus na hierdie talentvolle groep by https://youtube.be/gzJcol_UMsQ, of gaan kyk na hul Facebook blad ilquattro south africa, of op Instagram by ilquattrosa.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button