NewsNews

Verhoor dié week hervat

Verhoor dié week hervat

Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Miela Jansen van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo, Anton Loggenberg en Cor Loggenberg sal vandeesweek weer in die hoë hof in Parys voor regter Corné van Zyl verskyn op klagte van moord na die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeda.
Die saak is tot 15 Februarie 2019 op die hofrol geplaas, en dan weer van 4 tot 8 Maart 2019.
Die staat het reeds sy saak gesluit waarin hy beweer die 6 het Tjixa en Jubeda glo op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik aangerand dat hulle kort daarna in twee afsonderlike hospitale oorlede is. Die oorledenes is na bewering daarvan verdink dat hulle betrokke was by ‘n plaasaanval kort voor die aanranding, op Loedie van der Westhuizen Sr.

Loedie Sr is in 2018 oorlede.
Die soveelste terugslag in die verhoor van die ses mans het in Mei 2018 gekom nadat adv. Koenie Pieterse wat vir al 6 die beskuldigdes verskyn het, asook prokureurs Hannes Grimbeek wat kapt. Henk Prinsloo verteenwoordig het, en Kobus Burger wat Anton Loggenberg en sy seun, Cor, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren verteenwoordig het, van die saak onttrek het. Dit het beteken dat elkeen van die beskuldigdes sy eie regsverteenwoordiging moes kry.

 

Adv. Dawie Reyneke van die Regshulpraad verskyn nou vir Henk Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen, terwyl adv. Johan Vorster  namens Anton Loggenberg verskyn, en Boeta van der Westhuizen deur adv. Piet Pistorius verteenwoordig word. Adv. Henie du Plessis verskyn namens Miela Jansen van Vuuren.

Na ‘n vlugtige hofverskyning vanoggend, Maandag 28 Januarie,  is die hof verdaag tot môre, Dinsdag 29 Januarie.

Tydens vanoggend se verrigtinge is toestemming gegee vir Boeta van der Westhuizen om sy geheue te kan verfris uit die bandopnames van die laaste hofverskyning in Mei 2018 toe hy in die getuiebank was en sy getuienis gelewer het. Sy kruisondervraging was nie afgehandel toe die verrigtinge destyds in Mei 2018 uitgestel is nie. Hy sal dan môre weer in die getuiebank wees.

Related Articles

Back to top button