NewsNews

Reënwater loop soos rivier; groot skade

Meer as 100mm reën en dit reën steeds.

In ‘n oomblik het ongelooflike watermassas reën vanmiddag (27 Januarie),  net na 16:00 oor die Vredefort-distrik uitgesak met plekke in die Schoemansdrift-omgewing waar meer as 170mm reën gemeet is. En dit reën steeds.

Op plekke is groot skade aangerig en is daar ook grondeienaars wat op die oomblik afgesny is weens die watermassas.

By Herman van Wyk op die plaas Baskop in die Vredefort Koepel, is beide ingange heeltemal onder water wat toegang in en uit  verhinder met water wat soos ‘n rivier hier verbyloop.

Foto’s wat by Baskop geneem is in die Vredefort Koepel. Met dank aan Herman van Wyk vir die foto’s.

 

By Witklipfontein Lodge, sowat 5km vanaf die Schoemansdrif-brug is groot skade deur die reën en hael aangerig met wildsheining wat op plekke verspoel het,  sonpanele van die gastehuis wat heeltemal vernietig is deur die hael, ‘n voertuig waarvan die bakwerk en windskerm deur die hael beskadig is, en duisende se skade aan store en werkershuise wat letterlik gevou het onder die watermassas en hael so groot soos gholfballe.

Volgens Dorothy Huyberechts is dit die eerste keer in die vyf jaar wat hulle op Witklipfontein is, dat die stroom op hul grond loop en boonop , net soos hul dam en reënmeters, heeltemaal oorloop in ‘n vernietigende watergolf.

Van die organiese groentetuin by die gastehuis is niks oor nie. Alles het weggespoel. Gelukkig het gaste by die gastehuis al vanoggend uitgeboek.

Dit is sneeuwit, soos in België vertel Dorothy wat vroeër in België gevestig was, en dan op ‘n ligter noot byvoeg dat die diere tot die einde van die somer minstens water sal hê.

Van die skade by Witklipfontein Lodge naby die Schoemansdrift-brug kan hier duidelik gesien word. Foto’s met dank aan Dorothy Huyberechts.

 

Ook elders in die Vredefort Koepel het mense foto’s ingestuur waar die hael soos ‘n dik wit sneeukombers oor die grond lê.

Foto’s by Chazen, ook in die Vredefort Koepel. Met dank aan Micha Viljoen.

Op Vredefort is op plekke 40mm en meer reën gemeet, en in Vanderbijlpark reeds vroeër vanaand al 45mm reën en ook daar reën dit nog. In Parys is op plekke 30mm en meer gemeet.

 

Related Articles

Back to top button