NewsNews

Familie en vriende neem afskeid van vermoorde regsman Eric Lyell

Wyle mnr. Lyell was gedurende sy praktiserende jare in regskringe bekend as ‘n “giftige prokureur” wat die wetboek uit sy kop geken het

 

 

Die oud-prokureur en bekende sakeman van Vereeniging, mnr. Eric Lyell,(68) wat verlede naweek wreed vermoor en deur sy moordenaars in die Vaalrivier naby Vanderbijlpark gegooi is, is Donderdag vir oulaas deur sy familie en vriende tydens ‘n roudiens by die NG Gemeente Drie Riviere-Oos, gegroet.

Hier onder is berigte wat  in Woensdag, 16 Januarie, se uitgawe van Vaalweekblad verskyn het. 

VEREENIGING. – Die regsgemeenskap is verlede naweek geskok deur die wrede moord op mnr. Eric Lyell (68), wat jare lank ‘n bekende prokureur en sakeman in die Vaaldriehoek was.

Terwyl sy kinders en vriende se kommer oor sy welstand vanaf verlede Vrydagaand tot Sondagoggend vinnig toegeneem het, was hulle onbewus daarvan dat mnr. Lyell se liggaam reeds Saterdagmiddag omstreeks 14:50 deur polisieduikers uit die Vaalrivier gehaal is en ongeïdentifiseerd in die lykshuis gelê het.

Volgens mnr. Rassie Erasmus, ‘n sakeman wat ‘n kantoorblok met mnr. Lyell op die ou Verref-terrein in Barrage-weg gedeel het, het hulle Vrydagmiddag besluit om na werk saam met nog twee vriende te braai.

“Ek is die agtermiddag na President Hyper om vleis te gaan koop maar toe ek terugkom by ons kantore, was Eric nie daar nie. Ek het aanvaar hy het ook gou ‘n paar goedjies vir die braai gaan koop. Toe hy egter teen 19:00 nog nie daar was nie, het ek hom herhaaldelik op sy sel begin bel, maar hy het nie geantwoord nie. Sy dogter, Clarissa, het later ook gebel om te hoor of haar pa by my was. Ons kommer het toegeneem, veral toe ons besef sy foon is afgeskakel. Eric het nooit sy foon afgeskakel nie,” sê Rassie, wat veertig jaar lank een van mnr. Lyell se beste vriende was.

“Ons het aanvaar dat hy dalk na sy vakansiehuis by die dam was en nie ontvangs gehad het nie, maar dit was nie Eric om weg te gaan sonder om te laat weet nie. Ek en sy kinders het teen Saterdag toenemend bekommerd begin raak,” sê Rassie.

Hulle het Saterdag oor die heining van hul pa se huis in Drie Riviere gekyk en gesien sy een motorhuisdeur staan oop en dat een van die voertuie weg was. Dit was baie ongewoon, omdat mnr. Llyell die motorhuisdeure nooit oopgelos het nie.

Teen Sondagoggend was sy gesin al mal van bekommernis en George, sy seun, het mnr. Lyell as vermis by die polisie aangemeld.

Dit is tóé dat hy verneem het daar is Saterdagmiddag reeds ‘n ongeïdentifiseerde lyk van ‘n wit man uit die Vaalrivier gehaal, maar dit het nie na die beskrywing van mnr. Lyell geklink nie. George is nogtans deur die polisie aangeraai dat die familie na die liggaam in die lykshuis moes gaan kyk. En toe kom die skok: Dit wás sy pa.

Pretmakers het Saterdagmiddag met ‘n boot op die Vaalrivier gevaar toe hulle naby die brug oor die Vaalrivier digby die pompstasie in Vanderbijlpark, op die drywende liggaam afgekom en die polisie laat weet het. Netcare 911 en die polisie was omstreeks 14:00 op die toneel en die watervleuel het die lyk, wat geen identifikasie aan hom gehad het nie, teen 14:50 kant toe gebring. Mnr. Lyell is vermoedelik in die gebied wat as Spider Valley bekend staan, met ‘n swaar voorwerp oor die kop en gesig geslaan voordat hy skynbaar van die wal af in die water gegooi is. Daar sal met ‘n lykskouing bepaal word of hy reeds dood was of verdrink het toe hy in die water gegooi is.

Baie onbeantwoorde vrae hang nog oor die moord. ‘n Sekuriteitsvideo wat Vrydag omstreeks 21:00 vanaf sy oorkantste bure se huis geneem is, toon hoe mnr. Lyell se silwer Jetta Tdi agteruit uit sy erf ry en twee swartmans agter inklim. Mnr. Lyell was teen dié tyd moontlik reeds vermoor. Volgens sy bankbesonderhede is sy laaste transaksie Vrydagaand omstreeks 19:00 by Checkers in River Walk, Drie Riviere, gedoen. Hoewel sy selfoon teen Vaalweekblad se saktyd nog nie gevind is nie, kon die sein met behulp van Google se naspeurstelsel tot ongeveer by President Hyper in Barrage-weg gevolg word voordat die foon vermoedelik afgeskakel is. Sy Jetta is later sowat 10 km van waar sy liggaam gevind is, gekry. Daar was modder in die voertuig en tekens van ‘n geveg, wat die vermoede laat ontstaan dat mnr. Lyell hom heftig teen sy aanvallers teëgesit het. Volgens sy vriend Rassie was mnr. Lyell ‘n fris man. “Dit sou minstens drie of vier aanvallers gekos het om hom te oorrompel,” meen hy.
Lyell was ‘n ‘giftige prokureur’ met ‘n hart van goud
VEREENIGING. – Die vermoorde mnr. Eric Lyell se seun, George, sê hy was van Vrydagaand af baie bekommerd omdat hy sy pa nie op sy selfoon kon bereik nie. Hy het later vir Bongani, sy pa se helper wat hom bygestaan het om meubels te restoureer, op sy selfoon gebel om te hoor of hy weet waar sy pa was.

Bongani, die kleinseun van ‘n geliefde voormalige huishulp van die Lyells, het beweer dat hy in Zastron in die Suid-Vrystaat was, onderweg na Worcester waar hy glo ‘n nuwe betrekking aanvaar het. Hy het gesê dat hy nie weet waar mnr. Lyell is nie. Mnr. Lyell was deur die jare soos ‘n pa vir Bongani en het hom onlangs selfs vir twee weke met vakansie saamgeneem see toe omdat die jong swartman nog nooit die see gesien het nie. Bongani, wat vrye toegang tot mnr. Lyell se huis gehad het, word nou deur die polisie ondervra omdat hy moontlik meer lig kan werp op wat Vrydagaand met sy werkgewer gebeur het.

Dit is nog onbekend of mnr. Lyell binne of buite sy huis deur die aanvallers ingewag is.

‘n Panga is in die huis langs die kluis gekry, maar dit is blykbaar nie in die aanval gebruik nie. Volgens mnr. Lyell se seun George word ‘n paar artikels uit die huis vermis, maar Vaalweekblad verswyg die aard daarvan om nie die polisie-ondersoek te ondermyn nie.

Wyle mnr. Lyell was gedurende sy praktiserende jare in regskringe bekend as ‘n “giftige prokureur” wat die wetboek uit sy kop geken het.

Hy het ‘n sterk persoonlikheid gehad, maar was terselfdertyd ook ‘n sagte mens wat mense in nood graag gehelp het, beaam verskeie van sy vriende en oud-kollegas.

“Hy was beslis nie suinig nie en het verskeie minderbevoorregte kinders van alle rasse byvoorbeeld met hul skoolgeld gehelp. Hy het ‘n hart van goud gehad,” sê een van sy vriende wat anoniem wil bly.

Mnr. Lyell was die afgelope jare as sakeman by verskillende ondernemings in verskeie dele van die land betrokke, onder andere by eiendomsontwikkeling, die gastehuisbedryf en die restourering van antieke meubels.

Hy word oorleef deur sy seun, George, ‘n prokureur, sy dogter Clarissa, ‘n mediese dokter en nog ‘n seun, Johm ‘n vlileënier, sowel as sy skoonkinders en kleinkinders.

Related Articles

Back to top button