NewsNews

Dit is oudisietyd vir Molen Kórus

Dit is oudisietyd vir Molen Kórus

Met die aanvang van die nuwe jaar is dit weer sulke tyd! Molen Kórus, Potchefstroom se bekende kamerkoor, hou weer oudisies!
Die koor, onder leiding van die bekwame Kobus Venter en Loretté du Toit, het in 2011 ontstaan toe ‘n groep oud-Pukkoorlede besluit het dat hulle graag nog ‘n platform wou hê om hul sangtalent met plaaslike gehore te deel.
Die koor het toe sy naam gekry by die bekende Molenstraat in die hartjie van Potchefstroom waar die koor weekliks oefen.
Die koor bestaan hoofsaaklik uit nagraadse studente en werkende individue met uiteenlopende belangstellings. Tog het die koorlede almal een ding in gemeen: ‘n liefde vir hoë gehalte koorsang.
Die koor streef daarna om ‘n baie hoë musikale-en tegniese standaard te handhaaf, en lede word gekies ten einde hierdie doelwitte te behaal.
Alhoewel Molen Kórus welbekend is onder Potchefstromers, het die koor ook al nasionale en internasionale gehore bekoor met hul unieke klank. In 2015 is die koor aangewys as die wenners in die kategorie vir Kamerkore asook as algehele wenners van die ATKV Internasionale Animato koorwedstryd. Die koor het ook reeds aan verskeie Aardklopproduksies deelgeneem, en het in 2015 ‘n CD-opname met van Awie van Wyk se mees bekende komposisies vrygestel, asook die digter T.T. Cloete se Psalmomdigtings opgeneem vir die klankbaan van sy DVD.
Verder het die koor in 2018 goue toekennings verower in al drie hul kategorieë (ope-kategorie afdeling) by die Interkultur Wêreldkoorspele in Pretoria, en is ook telkens as kategoriewenners bekroon .
Na hierdie groot welslae, beplan die koor om in 2020 in die kampioene-kategorie van die Interkultur Wêreldkoorspele in België deel te neem. Vir 2019 beplan die koor ook vele ander opwindende projekte, waaronder plaaslike-en buitestedelike optredes en ‘n kamerkoorfees.
Oudisies vind op 21 en 22 Januarie 2019 plaas by Potchefstroom Gimnasium (Molenstraat 20). Vir meer inligting, en om ‘n oudisie-afspraak te maak, besoek die koor se Facebook-blad, of skakel Christel by 082 566 4229, of stuur ‘n e-pos aan molenkorus@gmail.com.

Related Articles

Back to top button