NewsNews

Pasop vir beleggingslenters!

Moenie uitgevang word en té laat agterkom dat jou swaarverdiende spaargeld dalk in iemand anders se beursie beland het nie.

Met al meer mense wat ekonomies noustrop trek, is die versoeking dikwels groot om te belê in kitsskemas met beloftes van spaargeld wat blitsvinnig hoë rentes kan verdien.
Dit is juis hierdie blink beloftes wat mense soms die slagoffers maak van gewetenlose misdadigers. Hiervan kan inwoners van Parys, Vredefort en Vanderbijlpark getuig wat sedert middel 2018 met die hulp van “agente” in skemas in sogenaamde “buitelandse fondse” belê het met die belofte van baie hoë rente.
Die niksvermoedende beleggers se ID nommers en belastingbesonderhede is onder meer gevra. Nodeloos om te sê dat hoewel sommige gelukkig was om geld terug te ontvang, ander nou nog wag vir die spreekwoordelike beter dae.
Eers was daar die verskoning van oponthoude met Jan Taks, en toe administratiewe rompslomp, en nou steeds geen teken van die beloofde rente of aanvanklike geld wat belê is nie.
Wees baie versigtig vir wie jy jou persoonlike besonderhede gee en dink twee maal voordat jy sommer blindelings mense vertrou wat jou die wortel voor die neus hou van vinnige geldmaak-planne.
As iets te goed klink om waar te wees, is daar bes moontlik ’n slang in die gras.
Maak doodseker wie jy kies om by te belê en maak eerder gebruik van erkende beleggingsmaatskappye en fondse, en konsultante met behoorlike verwysings.
Onthou dat misdadigers al slimmer word met die slenters waarmee hulle vorendag kom.
Moenie uitgevang word en té laat agterkom dat jou swaarverdiende spaargeld dalk in iemand anders se beursie beland het nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button