NewsNews

Worshond beland in ystervark-vangstrik na klapper-histerie

Vuurwerke op Oujaarsaand is ’n nagmerrie vir troeteldiereienaars.

Vir Cheryl Blackwood van die Riastuine-plotte net buite Parys is haar honde die hartklop van haar lewe. Min het sy kon dink dat 2018 vir haar op ’n hartseer noot sou eindig toe haar Dapple worshondjie as gevolg van die vuurwerke, ten spyte van ’n behoorlik omheinde erf, angsbevange die pad gevat het.
Cheryl het geen steen onaangeraak gelaat om na hom te soek nie. Selfs op Gazette se webblad en Facebook-blad is mense se hulp gevra. Maar dit was eers drie dae later toe daar hulp op hul sekuriteits radiostelsel gevra is, dat ’n boer besef het dat die worshondjie wat in ’n ystervark-vangstrik gekry is, Cheryl se hondjie moes wees. Die hondjie was doodmoeg gespartel en rasend honger, en bykans ’n kilometer weg van sy huis.
Vandag is Cheryl steeds nie seker hoe hy uitgekom het nie. Vrydag was sy besig om nog draad onderaan haar heining vas te sit om seker te maak dat daar nie ’n herhaling sal wees van dié hartseer oujaarsaand nie.
Cheryl se storie is nie uniek nie. Volgens die plaaslike DBV en We Care, is hulle oorval deur mense wat na die Oujaarsaand vuurwerke, gesoek het na hul troeteldiere. Dan was daar ook baie wat verlore troeteldiere in hul erwe gekry het, en verlore troeteldiere wat steeds teen Vrydag 4 Januarie nog nie met hul eienaars herenig kon word nie.
Vuurwerke op Oujaarsaand is ’n nagmerrie vir troeteldiereienaars. Dit hoor en lees jy jaar na jaar in koerante en op sosiale media.
Hoewel baie die kleurryke vuurwerkvertonings geniet en die minute aftel om die nuwejaar te vier, is dit nie net honde en katte wat swaar hieronder ly nie. Ook voëls, perde, vee en ander diere. Selfs mense is angsbevange, lees jy in die kommentaar oor vuurwerke.
Veeartse sal jou vertel hoeveel kalmeermiddels verkoop word om troeteldiere kalm te hou. Baie sit nie ‘n voet uit die huis nie – hul pas hul troeteldiere op. Maar hoe gemaak as jy nie tuis kan wees nie? Hoe gemaak as die vuurwerke om jou skiet terwyl jy alles moontlik gedoen het om jou diere rustig te kry, en steeds nie kan keer dat jou diere vlug uit vrees nie?
Gazette het ’n meningspeiling op Facebook gedoen en die meeste lesers het gevra dat vuurwerke verban moet word. Daar was egter ook dié wat meen dat soos wat troeteldiereienaars die keuse uitgeoefen het om troeteldiere aan te hou met die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan, ander dieselfde reg en keuse het om vuurwerke af te vuur.
Daar is ook heelwat wat van mening is, en hul ook in hierdie jaar wil beywer, vir die daarstel van ’n terrein buite die dorp waar vuurwerke met die nodige toestemming en onder bepaalde voorwaardes binne ’n sekere tydgleuf op Oujaarsaand geskiet kan word. Maar dan lees jy dat selfs mense op die Vaal Eden-pad kla oor die vuurwerke.
’n Leser van Carletonville het gereageer deur te sê dat vuurwerke daar buite die dorp geskiet word, en dit baie goed werk.
Dan was daar ook diegene wat sê – hou op kla, vuurwerke sal daar altyd wees. “Regoor die wêreld is dit ’n groot ding.” Ook dat dit mooi is en pas by die oorgaan na ‘n nuwe jaar. En dat dit “nie te veel gevra is dat mense een aand van die 365 dae in ‘n jaar ekstra mooi na hul troeteldiere sal kyk nie.”

Related Articles

Back to top button