NewsNews

Op Oukersaand dink mens mos aan baie dinge…

‘ Terwyl ek herkou aan al die rugstekers wat die dolke in my rug kort-kort gedraai en dieper gesteek het, die verskriklike hitte, droogte en oneindigende rekeninge, is ek dankbaar. Mag 2018 se trane, wat ek mildelik gestort het, die goeie saad se water wees’

 

 

So op Oukersaand dink mens mos aan baie dinge. Geskenkies wat ek vooruit gekoop het, is nou iewers versteek. My kinders is by die huis en hulle wil by my wees. Dit maak my ryk.
Vandag hol ek toe mos seker vier keer dorp toe. Sommer vir goedjies. Drie supermarkte het nie meer mostertpoeier op die rakke nie. Ek het genoeg gehad. Tot laas naweek. Ek wonder hoeveel mense se spyskaart het tong en ham op. Hoeveel het nie kos nie?
‘n Hoogtepunt in my redakteurstyd van 14 jaar in diens van my gemeenskap, is beslis die Koskasprojek waar ek aan die stuur van ‘n Kersprojek vir behoeftiges gestaan het. En, die jeugsorgsentrum wat see toe kon gaan. Vandag hoop ek iemand sal ook nagte wakker lê as die nood in ons dorp op sy hoogste is. Planne beraam. Hoed in die hand staan. Eie begroting ‘n duik gee om te help.
Vanjaar was in my lewe die slegste jaar denkbaar. Nie net het ek my werk deur herstrukturering verloor nie, maar ek moes ‘n besluit in Julie neem, wat my hele bestaan verander het. Ek dank die Here vir genade en uithouvermoë.
Terwyl ek herkou aan al die rugstekers wat die dolke in my rug kort-kort gedraai en dieper gesteek het, die verskriklike hitte, droogte en oneindigende rekeninge, is ek dankbaar. Ek haal asem, is breinskerp en o so sentimenteel. Ek kry myself jammer. Dis ‘n kuns om as enkelvrou al die balonne in die lug te hou.
Ek dank die Here vir my twee pragtige kinders. Twee gelyktydig op universiteit sonder ‘n pa se bystand. Elke telefoongesprek met hulle sê hul dat hul mamma lief het. Geen geld kan liefde en respek koop nie.
Vanaand dink ek aan almal wat seer het. Die ooglopende en verborge seer.
Niel en Hanlie se huis wat afgebrand het. Eileen wat haar ma aan die dood afgestaan het en al die trane so op ‘n belangrike Christusdatum saam met Kerskos moet afsluk.
Ek dink aan my een vriendin, sy weet wie sy is, wie se kar teruggevat is en ander verblyf moes kry. Dít agv mense wat nie betaal vir dienste gelewer nie. Die doodloopstraat van ‘n gesonde gesinsekonomie kry ‘n stok in die wiel. Tog, sy bly een van my grootste motiveerders ten spyte van haar eie probleme.
My hart kuier by my boetie en sy gesin doer in Perth, Australië. As die goeters minder breek, sal ek tyd maak om te gaan kuier.
Selfdood. So baie mense wat ek geken het en onbekendes wat van die brug gespring het, het moed verloor. Ek bid dat dié gedagte nooit my besef van realiteit sal oorheers nie. Dit maak die probleem vir die wat agterbly, net groter. Of, net dalk is dit net ‘n ander manier van sterf. “Bly stil en lees die Bybel,” skree die engeltjie op my skouer. “Genadedood en ‘n oplossing om van gemors ontslae te raak,” sê die klein realiteitsmeneertjie op my ander skouer.
Môre gaan ons 3tjies by my ma Kersete geniet. Ek dank die Here dat my ma ‘n maat in oom Andries gekry het.
Daar is nie ‘n Krismisboom en crackers meer nodig nie. Ons gesin is minder as ‘n handvol. Mag 2018 se trane, wat ek mildelik gestort het, die goeie saad se water wees. Ek bid vir reën. Nie net in my kop om negatiwiteit weg te was nie, maar deurdringende lewegewende reën.
Mag God die aarde seën dié Kersfees.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button