NewsNews

Dit is wat jy jou huishulp nou moet betaal

Die minimumloon vir huishoudelike werkers is vroeër die maand in die Staatskoerant aangekondig

 

 

 

Die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, het pas die minimumloon van kwesbare werkers in die Huishoudelike Werker-sektor (soos huishulpe en tuiniers) aangekondig. Dié salarisse tree onmiddellik in werking en sal van krag wees tot 30 November 2019.
Die Vaaldriehoek se munisipaliteite (Emfuleni, Metsimaholo en Midvaal) val almal in die A-areas, waar die volgende vergoeding van krag sal wees:

Huidhoudelike werkers in Area A wat MEER as 27 gewone ure per week werk, moet nou ‘n minimum uurlikse tarief van R13,69 (R13,05 in 2017/18); ‘n minimum weeklikse tarief van R616,03 (2017/18: R587,40) en ‘n minimum maandelikse tarief van R2 669,24 (2017/18: R2 545,22) betaal word.

Huishoudelike werkers in Area A wat 27 ure of MINDER per week werk, moet ‘n minimum uurlikse tarief van R16,03 (2017/18: R15,28); ‘n weeklikse tarief van R432,78 (2017/18: R412,60); en ‘n maandelikse tarief van R1 875,22 (2017/18: R1787,80) betaal word.

Die Huishoudelike Werkers-sektor se vergoeding is steeds minder as die Nasionale Minimumloon van R20 wat verlede week deur staatspresident Cyril Ramaphosa aangekondig is en in Januarie 2019 in werking tree, maar volgens Minister Oliphant sal huiswerkers se vergoeding mettertyd by dié minimumloon ingefaseer word.

Arbeidskenners meen die oorgangsfase waartydens huiswerkers se loon laer as die aangekondigde nasionale minimumloon gaan wees, is om te voorkom dat huishoudings wat sulke werkers in diens het, hulle dadelik aflê omdat werkgewers bekommerd gaan wees dat hulle nie so ‘n hoë loon sal kan bekostig nie. Dit kan tot grootskaalse werkverlies en werkloosheid onder huis- en tuinwerkers lei.

Volgens Cosatu se president Zingiswa Losi gaan byna die helfte van Suid-Afrika se werksmag by die nuwe minimumloon baat aangesien 47% van die land se werkers tot nou toe minder as dit ontvang het. Die verhoging in die minimumloon gaan ‘n welkome stimulus vir die ekonomie wees, meen Losi.

 

Related Articles

Back to top button