NewsNews

‘My passie is om stilweg in die agtergrond oplossings vir skole te vind’

‘My passie is om stilweg in die agtergrond oplossings vir skole te vind’

“Die toekenning beteken vir my ongelooflik baie en dit is vir my ’n dubbele kompliment en eer vir die werk wat ek doen.”

Prof Elda de Waal by haar twee seuns, Hannes en Louis, wat die trotse oomblik met hul ma kon deel.

So sê prof. Elda de Waal, tans waarnemende direkteur navorsing by die Edu-HRight (onderwys en menseregte in diversiteit) navorsingsentiteit aan die Noordwes-Universiteit, wat pas as een van Afrika se invloedrykste vroue aangewys is.
Sy is as lewenslange presteerder vereer vir haar bydrae in onderrig en opleiding in die akademie. Sy het die toekenning tydens ‘n glansgeleentheid van CEO Global se Pan African Awards ontvang.
Elda sê sy was baie verras oor haar nominasie vir die toekenning, aangesien dit nie van die NWU gekom het nie. “Ek vermoed dit was een van die skooldistrikte se skoolhoofde in Limpopo waar ek ‘n paar skole uit moeilike omstandighede gehelp het.”
My passie is om stilweg in die agtergrond oplossings vir skole te vind wat ‘n positiewe uitkoms of gevolg het voordat dit uitkring na hoër gesag. My navorsing fokus dan ook op suksesvolle openbare skole, want die land kan nie privaatonderrig vir almal bekostig nie.”
Elda sê die klem op suksesvolle skole val juis op skole vir álmal en haar hart lê tans by die skole wat nie water of toilette het nie.
Sy het die afgelope jaar kontak met 871 skole in vyf provinsies gehad wat haar genoeg vertrou het om selfs telefonies navraag oor probleme te doen. Benewens skoolhoofde en onderwysers was daar selfs ouers en leerlinge wat haar vir oplossings genader het.

Die sertifikaat wat prof Elda de Waal ontvang het.

Elda sê dit is duidelik dat die maatskappy ook na haar bydraes tot onderrig en leer oor ’n lang tydperk gekyk het om aan haar die lewenslange toekenning te kon maak.
Elda is sedert 2001 aan die NWU verbonde waar sy as seniorlektor aangestel is.
Haar navorsingsvelde sluit skooleffektiwiteit, -veiligheid, opvoedkundige uitdagings, sosiale wetenskappe, regte, onderwysreg en wetgewing in.
Sy het al verskeie boeke die lig laat sien, waaronder ’n boek wat handel oor plaasskoolleerders en die reg tot basiese onderrig, hoe om skoolboelies te troef, die impak van onderwysers se emosionele intelligensie, basiese menseregte van onderwysers en die verhouding tussen onderwysers en leerders in openbare skole.
Elda sê haar passie vir die onderwys op voetsoolvlak is vir haar die heel belangrikste van haar navorsing en om die kwaliteit van plattelandse skole te help verhoog.

Related Articles

Back to top button