NewsNews

Regstappe teen man wat hond met windbuks skiet

Regstappe teen man wat hond met windbuks skiet

Regstappe word teen ’n inwoner van Mooivalleipark geneem nadat hy ’n inwoner van ’n nabygeleë erf se hond met ’n windbuks geskiet het.

Kolene Burger is woedend omdat haar agtjarige Maltese Poedel, Chappies, Vrydagaand geskiet is.

“Ek was in die sitkamer besig om televisie te kyk toe ek die eerste skoot hoor. Kort daarna hoor ek ’n tweede skoot en daarna begin my hond tjank,” sê Burger.

Sy sê dat haar bure se twee katjies in haar boom geklim en haar honde vir die katjies geblaf het. Sy vermoed dat die man haar hond geskiet het om hom stil te maak. Die voorval het omstreeks 19:15 plaasgevind.

“Ons bure was buite op hulle stoep en het die man gesien. Ek neem nou regstappe teen hom,” sê sy.

Burger het dadelik vir PAWS gebel om mediese hulp vir haar hond te kry.

Chappies kon Vrydag glad nie op sy been trap nie. Foto: Verskaf

Chappies kon Vrydag glad nie op sy been trap nie. Foto: Verskaf

“Ek het hom Vrydagaand self by die huis behandel volgens wat PAWS se veearts vir my gesê het en hom Saterdagoggend toe na hulle geneem,” sê sy.

“Ek wil PAWS net bedank vir die fantastiese diens wat hulle aan my gelewer het,” sê sy.
Die hondjie se wond is besig om te herstel maar hy loop steeds mank.

“Ons kyk nou of die spier rondom die koeël sal genees, indien nie, sal Chappies vir X-strale en moontlik ’n operasie moet gaan,” sê sy.

Die wond waar die windbukskoeël Chappies getref het. Foto: Verskaf

Die wond waar die windbukskoeël Chappies getref het. Foto: Verskaf

Sy sê sy is bang om hom te laat opereer aangesien hy al ’n redelike ou hondjie is. Volgens polisiewoordvoerder ao. Mpho Manyoba, ondersoek die polisie ’n saak van dieremishandeling teen die man. Volgens haar het niemand nog in die hof verskyn nie.

Burger sê dat sy nie stappe sou neem as die man haar geskakel het en om verskoning gevra het nie.

“Hulle het my nommer. Hulle kon net verduidelik dat hulle ’n fout gemaak het en dat hulle jammer is,” sê sy.

Sy vermoed ook dat dit nie die eerste keer is dat so iets gebeur het nie aangesien een van haar ander honde twee ouer wonde het wat soortgelyk aan die skietwond op Chappies lyk.

Sy kon eers nie verklaar waar die hond se wonde vandaan gekom het nie, maar vermoed nou dat dit dalk ook windbuks koeëlwonde kan wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button