NewsNews

Harde werk, deursettingsvermoë en die regte eetplan

Om gewig te verloor en jou ideale gewig te handhaaf, verg harde werk, deursettingsvermoë en die regte eetplan vir jou liggaam.

Hiervan kan die 16 deelnemers getuig wat onder leiding van hul persoonlike instrukteur, Hendri Slabbert, by Dome Fitness Centre, deelgeneem het aan ’n 12 weke “Summer Body Challenge”.
Daar is ingeskryf in twee afdelings waaronder die “Bikini Lyf”, en die “Summer Body Challenge”. Vir die wenners was daar R6 000 op die spel.
Die einddoel van die kompetisie was om vet te verloor om uiteindelik hul algemene lewenskwaliteit te verbeter, beter te voel en meer energie te hê. In totaal het die 16 deelnemers aan die einde van die 12 weke 90,4kg verloor en 447,5cm. ’n Honderd persent suksessyfer vir vetverlies.
Die wenners van die Summer Body Challenge was Richann Brussow wat 6,1% liggaamsvet (4,4kg) verloor het, Naddy Claassen wat 7,5% liggaamsvet (11kg) verloor het, en Beverley Vercuiel wat 4% liggaamsvet (12,5kg) verloor het. Die Bikini Lyf-afdeling is gewen deur Karien Hayward wat 10,3% liggaamsvet (6kg) verloor het.

Op die foto is van die deelnemers wat aan die eerste Summer Body Challenge deelgeneem het. Derde van links voor is Beverley Vercuiel, een van die Summer Body Challenge wenners, met Karien Hayward, die wenner van die Bikini Lyf-kompetisie vyfde van links voor, en Naddy Claassen, nog een van die wenners van die Summer Body Challenge regs van haar. Heel regs voor is Hendri Slabbert, persoonlike instrukteur, en agter regs Richan Brussow, die vierde wenner.

Die deelnemers, waarvan die oudste 58 was, het oor die 12 weke ’n gesonde, volhoubare eetplan en oefenprogram gevolg wat aangepas is vir elkeen se individuele behoeftes. Die oefenprogram het hulle in groepe van vier gedoen.
Volgens Hendri was dit die eerste keer dat die kompetisie deur hom aangebied is, maar is daar beslis nog kompetisies in die vooruitsig vir 2019 (sien advertensie hiernaas).
Gewigsverlies is vandag vir baie mense ’n geweldige uitdaging.
Die groot probleem sê Hendri is dat baie eetplanne generies is en beperkend. Ongelukkig keer baie mense daarna weer terug na verkeerde eetgewoontes.
Die program wat deelnemers met die kompetisie gevolg het oor die drie maande, het juis na verskillende vorms van eet- en oefenprogramme gekyk om elke individu ‘n keuse te kon bied. Nog ’n belangrike aspek is die ses weke monitorprogram waarmee seker gemaak word elke deelnemer behou hul ideale gewig.
Hendri sê om aktief te wees help beslis vir gewigsverlies, maar een van die grootste slaggate waarin mense in vandag se moderne lewe trap, is die soeke na kitsoplossings vir gewigsverlies.
Tog is ’n volhoubare eetplan waar jy minder kalorieë inneem as wat jy verbrand, die antwoord.
So byvoorbeeld kan ’n beter keuse gemaak word met drie hoenderborsies en ’n groot bord brokkoli wat ongeveer 300 kalorieë sal wees, teenoor ’n klein hamburger wat dieselfde kalorieë bevat, maar jou gouer weer honger sal laat voel en baie minder voedingswaarde sal bied.
Nog ’n doodsteek is koeldrank wat een van die grootste bydraende faktore tot oorgewig is. Water, rooibostee en lae kalorieë koeldrank is byvoorbeeld beter keuses.
Vetpersentasie speel ’n groot rol en moet jy liefs lae vet voedingsryke voedsel eet.
Gaarmaakmetodes speel ook ’n rol en moet jy beslis wegbly van kitspakkies, souse en room, en liewer oorweeg om byvoorbeeld jou groente te stoom.
Hendri glo in die gesegde: “There’s no bigger gift than a home-cooked meal.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button