NewsNews

‘Ek is nie okay nie,’ sê plaasmeisie na aanval

“Ek is nie okay nie. Ek is dood binne.”

So sê die jong Potchefstromer, Nanna Viviers (25), wat op 20 Oktober, die oggend van haar verjaarsdag, in haar huis in Bailliepark aangerand en byna verkrag is.

Nanna en haar vriend Albert John (23) het nog geslaap toe ses gewapende mans in hul huis ingekom, hulle wreed aangerand en vir Nanna twee keer probeer verkrag het.

Nanna se wangbeen is in die proses vergruis en sy kan steeds nie normaal sien of loop na die aanval nie. Hoewel haar fisiese beserings stadig maar seker besig is om te herstel, is Nanna emosioneel en geestelik steeds verwoes.

 

“Ek sal nie my grootste vyand toewens om deur hierdie soort trauma te gaan nie,” sê Nanna.

“Ek kan eerlikwaar nie sê hoe ek voel nie. Ek kan nie sê of ek haat of woede voel nie. Ek is dood binne op hierdie stadium.” Sy sê dat die aanval elke dag steeds oor en oor in haar kop afspeel en dit voel asof sy heeltyd in die gesigte van haar aanvallers vaskyk.

“Ek was nooit ’n bang mens nie. Nou kan ek nie eers alleen in my bed slaap of op my eie badkamer toe gaan nie,” sê sy.

“Daardie vrees wat terugkom elke keer as ’n hond blaf of as iemand ’n deur te hard toeslaan en die nagmerries wat ek konstant oor die aanvallers kry, maak dit soveel erger,” sê sy.

 

Dit is vir haar veral ’n marteling om dorp toe te gaan aangesien sy nie al haar aanvallers se gesigte kon sien nie en hulle steeds nie aangekeer is nie. Elke tweede ou wat net in my rigting kyk, kan een van hulle wees. Een van die ouens wat my so seergemaak het kan letterlik voor my staan en vir my glimlag en ek sal nie weet dit was hy nie,” sê sy.

“Ek weet almal om my wil graag hê ek moet sterk wees en weer wees soos ek voorheen was, maar die realiteit is dat ek nooit weer sal herstel tot waar ek was nie,” sê sy. Sy sê daar is so baie dinge wat gekneus is, veral haar vrouwees.

“Om twee keer byna verkrag te word is verskriklik. Mens voel vuil, mens voel minderwaardig en asof daar ’n deel van jou dood is.”

Volgens Nanna was die aanval nie net ’n gewone inbraak nie. Sy meen die mans het gekom met ’n rede.

“Die polisie is nog besig met die ondersoek en hopelik sal ons binnekort weet waarom hulle ons geteiken het, maar dit was beslis nie net ’n gewone inbraak nie. As dit was, het hulle meer waardevolle besittings geneem. Hulle het verby die televisie en al ons elektroniese goed, reguit kamer toe gekom. Hulle wou ons seermaak en hulle wou my verkrag. Dis waarom hulle gekom het,” sê sy.

Related Articles

Back to top button