NewsNews

Die voorkoming van seksuele geweld begin met hoe ons seuns opvoed

Moet nooit jou drankie alleen laat nie, moenie alleen in die aand loop nie, moenie uitlokkende klere aantrek nie. Dit is die soort advies wat meeste vroue van ʼn jong ouderdom af kry.

Moet nooit jou drankie alleen laat nie, moenie alleen in die aand loop nie, moenie uitlokkende klere aantrek nie.

Dit is die soort advies wat meeste vroue van ʼn jong ouderdom af kry.

Ons leef in ’n land waar geweld teen vroue baie algemeen is. Daarom is daar rede om bekommerd te wees oor hul veiligheid.

“Maar as hierdie advies vir vroue gegee word, wat word mans dan geleer?” vra Maryjo Oster, van Childtrends.org

Volgens haar wys navorsing dat ouers meer met hul dogters oor seksuele geweld praat as met seuns. Die gesprek gaan dan ook meer oor hoe om seksuele geweld te voorkom.

’n Opname deur die Henry Kaiser Family Foundation het gewys dat daar meer verwarring oor die konsepte van toestemming en seksuele geweld onder mans as by vroue is. Min ontvang enige soort opvoeding hieroor.

Die omvang van die probleem

Volgens Oster, word  1 uit 5 vroue in die VSA in hulle leeftyd verkrag.

Tien miljoen vroue in die VSA word voor die die ouderdom van 18 verkrag of is probeer verkrag, en 1 uit 3 meisies is al fisies of emosioneel deur hulle kêrels mishandel.

Die situasie in Suid-Afrika is veel erger waar, volgens die Huffington Post, ʼn vrou elke 26 sekondes verkrag word.

Die nuutste misdaadsyfers wys dat daar in Potchefstroom en Ikageng die afgelope jaar 241 mense seksueel aangerand is. Dit is 20 per maand.

Volgens Oster is daar empiriese bewyse dat “seksistiese, patriargale, en/of seksueel vyandige houdings” voorlopers van geweld teen vroue is.

Wat kan gedoen word?

Hoewel min navorsing gedoen is oor die effektiwiteit van opvoedingbenaderings om geweld teen vroue te verminder, is daar wel belowende teorie-gegronde voorkomingstrategieë wat toegepas kan word.

Byvoorbeeld “Coaching Boys into Men”, ’n program wat deur hoërskool sportafrigters aan seuns aangebied word, is saamgestel gegrond op bewyse dat jong mans wat negatiewe houdings teenoor vroue het gewoonlik hulle meisies of vroue mishandel.

Volgens Oster kon seuns wat aan die program deelgeneem het makliker gedrag wat dui op mishandeling herken. Hulle was ook meer geneig om in te gryp as diegene wat nie aan die program deelgeneem het nie.

“Opvoeding op sy eie is nie ’n wondermiddel nie, maar dit is ongetwyfeld ’n goeie begin. Hierdie opvoeding, soos alle goeie voorkoming, moet vroeg begin en deurlopend toegepas word.

Dit moet verder gaan as net wat meisies kan doen om te voorkom dat hulle slagoffers word. Dit moet ook die houdings verander wat mans oor vroue en manlikheid het. Dit moet gedrag by mans aanmoedig om wedersydse respek en gelykheid toe te pas,” sê Oster.

Related Articles

Back to top button