NewsNews

Parysenaar skitter met landwye derde plek vir gesogte L’Oreal Colour Trophy

Parysenaar skitter met landwye derde plek vir gesogte L’Oreal Colour Trophy

Parysenaar Dorné Vrey van Dorné Vrey Professional Hair het weggestap met ’n skitterende derde plek in die landwye 2018 L’Oreal Colour Trophy kompetisie.
Die gesogte internasionale haarkapper-kompetisie word reeds die afgelope 63 jaar regoor die wêreld aangebied, insluitend Suid-Afrika. Vir die Suid-Afrikaanse kompetisie kry haarkappers regoor die land die geleentheid om in te skryf, maar uiteindelik word net twaalf finaliste uit top haarsalonne regoor die land gekies.
Vir die beoordeling van die kleurtrofee waarvoor Dorné ingeskryf het, moes deelnemers ’n inspirerende, moderne en vroulike kleuruitbeelding skep, wat aangevul moes word deur styl, afwerking en algehele voorkoms wat betref haarkleur en mode. Al die kriteria moes deur deelnemers na goeddunke geïnterpreteer word, maar die finale voorkoms moes ooreenstem met die waardes van L’Oréal Professional.
Die model wat Dorné vir haar Colour Trophy inskrywing gebruik het, is Anthea Piater, grafiese ontwerper, en ook ’n Parysenaar. Beoordelaars van regoor die wêreld het die verskillende fases van die kompetiesie beoordeel. Die top 24, asook die 12 finaliste is onder meer aangewys deur internasionale legendariese haarkunstenaars en styliste, asook deur internasionale ikone soos Bertram K, Sophia Hilton en Matthew Collins (bekende stilis op Instagram met kliënte soos Cindy Crawford en Emma Stone).
Die finale beoordeling was tydens ’n glansgeleentheid op 29 Oktober in Johannesburg, waar Dorné stof in die oë van die land se top haarkappers geskop het met ’n derde plek vir die kleurtrofee. Stacy Fagan van Hair@Stacy & Co, Greenside, was die wenner.

Related Articles

Back to top button