NewsNews

Jong pa bou dubbelverdieping sink-paleis

Toe Thabo Kolodi besef het dat die munisipaliteit nie vir hom die HOP (RDP) huis kon bou wat al in 2014 aan hom belowe is nie, het hy besluit om sy droomhuis self aanmekaar te sit.

 

Thabo sê dat hy in 2014 al ’n droom gehad het van ’n beter huis, aangesien hy, sy meisie (Dimakatso Tsepe) en hul dogtertjie (Happiness) tot onlangs toe nog in ’n twee-vertrek sinkhuisie in uitbreiding 11, Ikageng moes woon.
Sy droom was om ’n groter huis – ’n dubbelverdieping huis – te kon bou.

Thabo en sy meisie Dimakatso sit op 'n tuinstel op hul voorstoep. Thabo het dié stel ook self gemaak.

Thabo en sy meisie Dimakatso sit op ‘n tuinstel op hul voorstoep. Thabo het dié stel ook self gemaak. Foto: Marianke Saayman

Thabo het reeds in 2015 begin om materiaal bymekaar te maak en vandag spog hy met ’n byna volledige dubbelverdieping sinkhuis met sewe vertrekke, ’n voorstoep, balkon en ’n pragtige tuin.

“Deur die week skrop ek maar vir werk. Ek werk bietjie hier in ’n tuin, dan verf ek bietjie daar. Dan vra ek gewoonlik as die mense hul materiaal nie gebruik nie of wil weggooi, of ek dit eerder kan kry,” sê die hardwerkende jong pa.

Thabo se huis bestaan nou uit twee slaapkamers, ’n sitkamer, kombuis en badkamer op die grondvloer en bo is ’n gastekamer met ’n balkon vir wanneer vriende of familie wil kom kuier.

Thabo staan op sy balkon wat uitkyk na sy pragtige tuin. Foto’s: Marianke Saayman

Thabo staan op sy balkon wat uitkyk na sy pragtige tuin. Foto: Marianke Saayman

Die huis het binne wel nog baie werk nodig en Thabo benodig sinkplate, asbesplate (die deurskynende plate wat soos sinkplate lyk), palette en laaghout. Baie van sy mure moet binne nog bedek word met hout en hy wil die hout van die palette gebruik om vir hom ’n mooi plafon in sy huis te lê wat hy dan in ’n spesifieke kleurskema gaan verf.

Hy wil ook sy stel trappe na die eerste verdieping, wat tans uit gebuigde plate bestaan, met hout planke versterk.
Thabo werk elke aand aan sy huis en maak dit stuk-stuk beter. Hy is ook baie passievol oor sy tuin en spandeer weer sy oggende voor hy werk toe gaan deur sy tuin mooi en netjies te maak.

Thabo se drie susterskinders staan in sy pragtige tuin. Foto’s: Marianke Saayman

Thabo se drie susterskinders staan in sy pragtige tuin. Foto: Marianke Saayman

“Om in my tuin te werk laat my bietjie ontspan en wegbreek van die alledaagse stres,” sê hy.

Wanneer hy nie besig is met sy huis of om in sy tuin te werk nie, geniet Thabo dit ook om fiets te ry in sy vrye tyd. Hy het onlangs ’n medalje verower by ’n fietswedren waaraan hy deelgeneem het. Hy sê dat wanneer hy klaar is met sy huis, wil hy ’n nuwe projek aanpak om kinders in die uitbreidings van Ikageng uit die gevaarlike strate te hou.

“Ek wil dubbelverdieping pophuise uit palette bou vir die kinders van die gemeenskap. Die kinders daar het nou niks om te doen nie, so hulle kom na skool by die huis en dan sit hulle voor die televisie of hulle hang in die strate uit waar daar dwelms is,” sê hy. Enigeen wat vir Thabo materiaal kan skenk, kan hom by 074 644 2629 kontak.

Hoewel die trappe nog werk kort, is dit stewig gebou.

Hoewel die trappe nog werk kort, is dit stewig gebou. Foto: Marianke Saayman

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button