NewsNews

Versnit Somer: ‘Ons sal nie ophou musiek maak!’

“Mense wat sê dat hulle nie van klassieke musiek hou nie, het nog net nie goed genoeg daarna geluister het nie.”

Musiekliefhebbers kan byvoorbaat uitsien na ’n viering van die somer met Erna Rademan se musiekkonsert, “Versnit Somer” op Sondag 18 November om 11:30 in die NG Kerk Vredefort.
Die groot sukses van die eerste twee “Versnit”-musiekkonserte is die inspirasie om weer klassieke musiek van die hoogste gehalte na musiekliefhebbers op die platteland te bring.
Meer inligting oor die kunstenaars wat sal optree, sal in die volgende uitgawe van Gazette gegee word.
Klassieke musiekkonserte op die platteland skyn op sigself ‘n teenstrydigheid te wees, des te meer as die dorpie Vredefort met sy 3 000 inwoners, die Mokwallo-woonbuurt ingesluit, die plek is waar hierdie konserte gehou word.
In Vredefort floreer klassieke musiek as‘t ware net so goed soos die sorghum, sonneblomme, mielies, grondbone en vee waarmee in die distrik geboer word.
Vredefort as sodanig is redelik onbekend aan Suid-Afrikaners, maar Erna Rademan is vasberade om die dorpie die hartland van klassieke musiek op die platteland te maak. Sy woon die afgelope 32 jaar op ‘n plaas in die Vredefort-distrik en het ‘n passie vir klassieke musiek. Onbekend is onbemind, so glo sy.
“Mense wat sê dat hulle nie van klassieke musiek hou nie, het nog net nie goed genoeg daarna geluister het nie.” Sy sê sonder skroom dat sy die kaartjiegeld sal terugbetaal indien iemand haar konserte nie geniet nie.
Rademan verklaar passievol: “Klassieke musiek is deurgrondelik goed. Dit kan mens op geen manier skade berokken nie. Dit verryk, verlig en verhef almal wat daarmee in aanraking kom. Jy moet jouself en jou kinders soveel moontlik daaraan blootstel.”
Sy sien klassieke musiek nie net as ’n sielsverrykende ervaring nie, maar ook as terapie en vertel geesdriftig dat die Louisiana Filharmoniese Orkes na die 9/11-ramp spesiale konserte aangebied het om die publiek te help om die skok en afgryse van die gebeure te verwerk.
Volgens die orkes se uitvoerende direkteur was die projek ’n groot sukses: “It touched your soul, it soothed, it calmed“.
Klassieke musiek bring vrede en harmonie na mense, glo Rademan. Sy haal André Rieu aan wat met sy konserte klassieke musiek wêreldwyd bekend en geliefd gemaak het: “We hebben samen ongelooflijk veel plezier. Als je niet in vreugde en harmonie met elkaar kunt leven, hoe kunt je dan samen mooie concerten geven?”
Rademan is die aangewese president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers (SAVMO), sowel as streekverteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging (SAKOV).
Haar termyn as president van SAVMO begin in April 2019. Beide posisies noop haar om nog harder te werk om musiek ‘n werklikheid in meer mense se lewens te maak.
Darling het vir Pieter Dirk Uys, Vredefort en Parys het vir Erna en Marli (Krüger). “Ons sal nie ophou musiekmaak totdat ons regtig nie meer kan nie,” sê Rademan.
“Jy hoef nie landuit te gaan om pragtige musiek te hoor nie. Selfs al woon jy op die Vrystaatse dorpie Vredefort, of in die omgewing, hoef jy nie afgesny te wees van die wonderlikste musiek wat in ons land beskikbaar is nie.”
Teken die datum in jou dagboek aan. “Versnit Somer 2018” beloof om ‘n baie besondere ervaring van musiek in die ruimte van Vredefort se NG Kerk te wees – ‘n viering van somer, son en skoonheid.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button