NewsNews

Ergste ongeluk nog by R59 en DF Malan kruising

Ergste ongeluk nog by R59 en DF Malan kruising

SASOLBURG. – Een van die ergste ongelukke nog by die gevaarlike Shell-kruising op die R59 het Maandagmiddag,  22 Oktober, net voor 17:00 plaasgevind, toe ‘n jong pa van drie in sy motor dood is en ‘n bejaarde man later in die hospitaal beswyk het.
Mnr. Jan Oosthuizen (33), ‘n werknemer by GTWLS Warehouse, het op die toneel gesterf toe die Suzuki Vitara onder ‘n 18-wiel vragmotor beland het en ‘n ent saamgesleep is. Die trok het teen een van die kragpale tot stilstand gekom en ‘n kortsluiting veroorsaak, waarna ‘n brand ontstaan het.
Vaal Emergency Care (VEC) en ER24 se paramediese personeel was gou op die toneel. Jan, wat op pad was na sy huis in Vaalpark toe die ongeluk gebeur het, het met hul aankoms reeds gesterf en is deur VEC dood verklaar.
“Hy was ‘n wonderlike man wat mooi na ons gekyk het,” het sy vrou, Anneke Oosthuizen, aan Vaalweekblad gesê. Jan was die pa van drie kinders. ‘n Goeie kennis van die Oosthuizen-familie, Nico Duvenage, het aan Vaalweekblad gesê Jan was ‘n ‘great guy’.
Mnr. Hennie Burger (69), die bestuurder van die Nissan-bakkie, was in ‘n kritieke toestand. Hy was vasgepen in sy bakkie en is deur die brandweer met hidroliese toerusting bevry. Hy is met veelvuldige inwendige beserings deur Netcare 911 se helikopter na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg, waar hy Maandagaand omstreeks 23:00 aan sy beserings beswyk het.
Hy was vir jare ‘n inwoner van die Vaaldriehoek en saam met sy seun, Juan, mede-eienaar van Crazy Paving. Volgens Juan was sy pa ‘n saggeaarde man wat altyd bereid was om te help. Hy word oorleef deur sy vrou Mercia, drie kinders Juan, Eddie en Yolandé de Klerk en ses kleinkinders.

Nellie en Paul Kruger, wat in ‘n Ford Fiesta gery het, asook die bestuurder van die vragmotor, het ligte beserings opgedoen en is deur VEC na die Metsimaholo-hospitaal geneem vir behandeling. Nellie het na die ongeluk op Facebook gesê: “Ek en my man was in die ongeluk met die wit Fiesta. Dankie Here U het ons laat leef. en nog n kans gegee.ons het die dood gesien toe die groot lorrie die wit bakkie tref en na ons kant toe kom en ons motor aan die bestuurder kant tref en weg stamp. Ek sal hierdie ongeluk nooit kan vergeet. Bo alles het ons blou kolle en skraap merke. seer lywe. Ons innige simpatie met die familie. van die oorlewendes Jesus sal krag gee.”

Teen druktyd was nog geen begrafnisreëling van enige van die oorledenes beskikbaar nie. Die presiese oorsaak van die ongeluk word deur die Sasolburg-polisie ondersoek.

* Mnr. Marius Venter, besturende direkteur van VEC wat eerste op die toneel was, was in die nadraai van die ongeluk byna self ‘n slagoffer. 
Terwyl hy besig was om bystand aan die beseerdes te verleen, het hy ‘n harde slag gehoor en ‘n harde hou in die rug gekry. Dit was ‘n skokbreker wat vermoedelik uit die vragmotor geskiet het toe die voertuig ontplof het.

Nellie en Paul Kruger

 

 

 

 

 

 

 

Wyle Hennie Burger (69).

Wyle Jan Oosthuizen saam met sy vrou Anneke en hul drie kinders.

 

 

 AUTHOR

Related Articles

Back to top button