NewsNews

Rowers teiken gemeenskapswerker

“Een van die mans het gesê hulle gaan my nou doodmaak. Ek is in die sand neergegooi en met ‘n klip oor die kop en teen die kant van my gesig geslaan."

 

WALKERVILLE. – ‘n Vrou wat bekend is vir haar ywerige werk in die gemeenskap, veral om tienderjariges in nood by te staan, is Donderdag, 27 September met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem nadat sy op ‘n stil pad deur drie aanvallers aangerand en beroof is.

Mev. Karen Landi, ‘n bekende gesig by die organisasie Community Hours, sê sy het die dag in Walkerville gery toe sy ‘n voertuig met ‘n flitsende blou lig agter haar sien. Toe die motor nader kom, is ‘n sirene aangeskakel en sy het instinktief van die pad af getrek.

“’n Man het na my venster gekom en ek het gevra waarom ek afgetrek is. Hy het gesê dis omdat ek oor die geel lyn gery het. Ek het geweet dis nie waar nie en was redelik geïrriteerd. Ek het gevra om sy identifikasie te sien. Dinge het die volgende oomblik baie vinnig gebeur. Hy het my karsleutel uit die aansitter geruk. Twee ander mans het byna gelyktydig in my motor gespring. Een op die passasiersitplek en een op die agtersitplek. Ek het geweet ek moes uitkom.

“Ek het gesê: ‘Neem my kar, laat my asseblief net uitkom’ maar hulle het duidelik ander planne gehad. Die man in die agtersitplek het my na agter probeer trek terwyl hy my oor die kop en in die gesig geslaan het. Die man in die passasiersitplek het my ook rondgeruk en met die vuis geslaan. ‘n Man met ‘n goue tand het my probeer oplig en verskuif. Ek het hard geveg en heeltyd besef dat ek moet probeer wegkom.”

Karen is uiteindelik met geweld op die agtersitplek neergeboender terwyl die mans haar aanhoudend met die vuis in die gesig geslaan en rondgeruk het. Hulle het haar beveel om te “slaap” en gevra waarheen sy op pad was.

“Ek het hulle gesê ek is op pad na ‘n kampplek laer af in die pad en dat daar mense is wat op my wag.”

Die aanvallers het met haar in die voertuig begin ry. Na ‘n ruk het hulle van die pad af getrek en Karen hardhandig uit die voertuig geruk.

“Een van die mans het gesê hulle gaan my nou doodmaak. Ek is in die sand neergegooi en met ‘n klip oor die kop en teen die kant van my gesig geslaan. Hulle het gedreig dat hulle my gaan verkrag en het my langbroek en onderklere afgetrek. Ek het so weerloos gevoel. Ek het nie gedink ek gaan die aanval oorleef nie, maar na nog ‘n hou het hulle my uitgelos en weggery. Ek was vol bloed, maar genadiglik lewend.”

Sy het teen ‘n skuinste uitgestrompel tot by die pad en ‘n voertuig probeer stop, maar dié het net aangery. Sy het ondanks ‘n diep sny aan haar voet, aanhou loop tot by haar vriende by die nabygeleë kamp, waar sy in trane uitgebars en hulle van haar beproewing vertel het.

‘n Erg getraumatiseerde Karen is in die Unie-hospitaal opgeneem waar sy twee dae in die waakeenheid was. Sy is intussen ontslaan en sterk nou tuis aan.

“My herstel is nog stadig. Een tree op ‘n keer. Dit gaan ‘n lang reis wees,” sê sy. Sy bedank haar familie en vriende wat haar sedert die voorval met groot liefde en sorg onderskraag het.

Sy sê die les wat sy geleer het, is om nooit te stop as jy in ‘n verlate gebied afgetrek word nie. Hou aan ry tot waar daar ander mense is. Sy sê hoewel haar aanvallers wreed en veragtelik opgetree het, verteenwoordig hulle nie die meerderheid nie. “Moenie almal haat vir die misdadige aksies van ‘n klein minderheid nie.”

Vaalweekblad, Gazette se susterskoerant, verneem dat Karen se voertuig intussen gevind is, maar die aanvallers is nog op vrye voet.

Related Articles

Back to top button