NewsNews

Kaartbedrog: Onthou dié wenke

Kaartbedrog: Onthou dié wenke

Die afgelope tyd is weer gevalle van kaartbedrog in Parys aangemeld. Wees baie versigtig wanneer jy ‘n kitsbank gebruik. In die gevalle wat gerapporteer is, was die verdagtes sonder uitsondering netjies geklee en baie goed gemanierd. Gevolglik vertrou mense maklik en aanvaar hulp wat aangebied word.
Maar wees gewaarsku – jy kan nie sommer goedsmoeds mense vertrou om jou te help of jou pinnommer aan hulle gee nie. Wees eerder oorversigtig en veilig en rapporteer enigiets wat nie sou pluis lyk by die kitsbank.
* Hou te alle tye ‘n ogie op jou kaart.
* Moet nooit vir iemand sê wat jou Pin is nie.
* Moenie jou kaart en Pin bymekaar bêre nie.
* Vermy swak verligte OTM’s
* Sleutel net jou Pin in wanneer die masjien dit versoek.
* Maak seker niemand hou jou dop terwyl jy jou Pin insleutel nie.
* Staan naby aan die OTM en maak seker omstanders kan nie jou hand sien terwyl jy die Pin insleutel nie.
* Maak seker jy hou jou hand oor die kaartgleuf om te versker niemand neem jou kaart nie.
* Verlaat die OTM dadelik indien jy onveilig voel.
* Moet nooit hulp aanvaar nie – nie eens van ‘n sekuriteitswag nie.
* Moenie toelaat dat iemand jou aandag aftrek terwyl jy ‘n transaksie by die OTM doen nie.
* Maak seker die kaart wat jy gebruik is jou eie, voor en nadat jy ‘n transaksie afgehandel het.
* Moet nooit jou geld by ‘n OTM tel nie.
* Kanselleer onmiddellik jou kaart as dit verlore, gesteel of beskadig is of deur ‘n masjien teruggehou word. Moenie toelaat dat iemand anders die oproep namens jou maak nie.
* As een of twee OTM’s in ‘n bepaalde gebied nie werk nie, is dit beter om nie na die naaste OTM in die gebied te gaan nie. Kitsbanke word gereeld gesaboteer om slagoffers na ‘n bepaalde OTM te lei.
* Indien ‘n OTM of PVV-toestel beskadig lyk, die skerm niks vertoon nie, of dit lyk asof daaraan gepeuter is, moet jy dit nie gebruik nie.
* Verlaag jou daaglikse onttrekkingslimiet om te vermy dat misdadigers al jou geld steel indien hulle wel jou kaart in die hande sou kry.
Die belangrikste is om op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te wees terwyl jy ‘n OTM gebruik. Indien jy enigiets verdag opmerk of ongemaklik voel, vertrou jou instink en beweeg van die masjien af weg.

Related Articles

Back to top button