NewsNews

Vlammegolf woed steeds

"Dankie aan omgee manne en vroue in ons area."

Teen vanoggend, 11 Oktober, is daar steeds moedig  baklei teen die verwoestende vlammegolf wat sedert Dinsdagoggend 9 Oktober in die Potchestroom en Fochville distrikte aan en af woed.

Die brand het langs die R500 (Parys/Fochvillepad) begin en as gevolg van verskeie dwarrelwinde blitsig in alle rigtings versprei – tot sowat 10km ver langs die Fochvillepad, en sowat 10km langs die Parys/Potchefstroom-pad, vertel Sarel van der Wat, voorsitter van Vaalrivier Rampbestuur.

Daar word reeds geraam dat sowat 20 000 ha se weiding afgebrand het, maar geen bevestiging kon nog gekry word van of daar eiendomskade is nie. Tot dusver is aanduidings nog net die verwoesting van weiding en verwilderde vee en wild.

Van der Wat sê dat as gevolg van die dwarrelwinde is daar sonder ophou teen die vlamme geveg, maar het die winde veroorsaak dat telkens wanneer die brand onder beheer gebring is, dit aan en af op plekke weer opgevlam het sedert Dinsdagoggend tot nou.

Talle vrywilligers uit die boeregemeenskappe van Parys, Vredefort, Fochville en Weiveld, die Potchefstroom Brandweer, Vaalrivier Rampbestuur en die Rooikat Patrolliegroep is onverpoosd sedert Dinsdag op die toneel om hulp te verleen en is daar vanoggend nog teen die vlamme baklei in die Rietpoort en Brakfontein gebiede langs die R500, asook in die Buffelshoek-omgewing langs die Potchefstroom-pad.

Van der Wat het al die genoemde organisasies en vrywilligers bedank vir hul toewyding en onverskrokkenheid om te help om die vuur te veg. Hy het gesê dat met die oog op die moontlike skenking van voerbale en vervoer vir die bale vir boere wat die ergste geraak is, sal opnames van skade so gou moontlik gedoen word.

Intussen is reeds gehoor van mense wat tydelik ander heenkome moes gaan soek het vir veiligheid met die vlammehel wat oral om hulle  losgebars het.

Nog ‘n inwoner van die omgewing het in ‘n skrywe aan Gazette gesê: “Dankie aan omgee manne en vroue in ons area. Julle wat jul sagte beddens opgee om warm vlamme, winde en gevaar te trotseer sonder om vergoeding te vra vir diesel, tyd en in baie gevalle werkers wat jul ook saambring. En altyd ‘n glimlag op roet besmeerde gesigte…”

Related Articles

Back to top button