NewsNews

5 Aardklop debuutproduksies wat jy nie kan mis nie

Hier is die 5 debuutproduksies wat elke feesganger moet sien.

Aardklop bied elke jaar toneelstukke uit die boonste rakke aan.

Die debuutproduksies  is nuwe produksies wat nog by geen ander fees te sien was nie.

Hier is die 5 debuutproduksies wat elke feesganger moet bywoon. Meer inligting oor kaartjies is op Aardklop se webtuiste beskikbaar.

1.Bloed en Bodem

Met ‘n rolverdeling wat vir Stian Bam, Albert Pretorius, Obed De Koker en Carla Smith insluit, moet dit die eerste produksie op elke feesganger se lysie wees. Die span wat die bekroonde Melk en Vleis op die planke gebring het, bring ook hierdie bitter relevante verhaal oor grense, grond en familie; oor plaasaanvalle en die desperate nalatenskap van Afrikanermans wat nooit kon heel nadat hulle aan die “verkeerde” kant van die apartheidstryd geveg het nie.

 

 2.  Toutjies en Ferreira

Reeds een van die fees se topverkopers, feesgangers sal moet wikkel om kaartjies vir dié toneelstuk te kry. Frank Opperman, Joanie Combrink, Antoinette Kellermann, Anthea Thompson, Esther von Waltsleben, Geon Nel, Aphiwe Livi, Wolf Britz en Melanie Scholtz speel in die toneelstuk met twee bedrywe. Die eerste gedeelte handel oor wat gebeur in daardie laaste uur voor ‘n toneelstuk begin. Die tweede gedeelte raak meer ernstig.

Jy gaan lag en dan gaan jy minder lag in dié produksie wat as komedie wegspring en by knop in die keel eindig.

As jou kinders emigreer is die vooruitsig van Skype op ’n Sondag met kleinkinders wat Engels praat, ’n skrale troos.

3. My Seuns

Nog een van Aardklop se topverkopers. Dit maak sin as daar na die gevolg van Sandra Prinsloo, André Odendaal, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Dovonan Pietersen en Buhle Ngaba kyk.

Ouma se verjaarsdagpartytjie stuur heel moontlik op ’n familie-oorlog af.

Pa wag om te hoor of hy as regter aangestel word. Maar gaan die huidige bedeling hom oorsien? Die seuns sit duidelik nie langs dieselfde vuur nie; miskien is albei verlief op dieselfde meisie, of dalk
lê hulle verskille veel dieper.

En wat presies het destyds tydens die bevrydingstryd gebeur – weet Ma meer as wat sy voorgee – en by wie lê haar lojaliteit? ’n Eg Suid- Afrikaanse verhaal, met al die kompleksiteite van vandag: die familiedramas, verwyte en onopgeloste vrae.

Geïnspireer deur Arthur Miller se All my sons.

 4. My mense is die kluts kwyt

Gebaseer op die sketskomedietradisie van Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang.

Hierdie stuk met ’n satiriese oog na Afrikaners in hul gemaksone en lewer kommentaar op geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik.

’n Lewensmoeë, deeltydse geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga haar manlike kollegas touwys maak.

’n Blou Bul-braai in Pretoria neem ’n onverwagse wending terwyl Louise en Peter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr.

5. Huishou

Twee wit vroue wil ’n swart kind aanneem. Die jonger vrou (’n swerwer wat jare tevore haar plattelandse tuisdorp verlaat het) se ouers emigreer, en dít veroorsaak ’n identiteitskrisis en ’n soeke na haar wortels en Afrikaner-erfenis.

Die ouer vrou, ’n selfverklaarde progressiewe vrou, wil sorgvuldig en noukeurig ’n huis opbou en vol maak.

Maar wat beteken dit as die jonger vrou nie daar tuis voel nie?

Related Articles

Back to top button