NewsNews

Emfuleni voldoen al vir vyf jaar nie aan NERSA-regulasies nie

Emfuleni voldoen al vir vyf jaar nie aan NERSA-regulasies nie

Die jarelange swak bestuur van die Emfuleni-munisipaliteit het nie net ‘n totale ineenstorting van infrastruktuur veroorsaak nie, maar vir die laaste vyf jaar het die munisipaliteit  nie aan die voorgeskrewe NERSA-lisensie regulasies voldoen nie, sê die Vryheidsfront Plus.

NERSA se voorwaardes bepaal onder meer die munisipaliteit moet 6% van sy totale jaarlikse elektrisiteitsverkope aan elektriese instandhouding bestee.

In Junie vanjaar het die Gautengse regering Emfuleni-munisipaliteit weens gebrekkige instandhouding  ingevolge Artikel 139(b) van die Grondwet onder semi-administrasie  geplaas.

Die munisipaliteit het ‘n kritiese tekort aan gekwalifiseerde tegniese personeel.

Die standaard opgraderingsplan ten opsigte van verouderde elektriese instandhouding van netwerke is ook nie nagekom nie. Vandalisme en verouderde substasies lei tot gereelde kragonderbrekings.

Die munisipaliteit se toepassing van die Geïntegreerde Ontwikkelings Plan (GOP) is ook nie in lyn met sy huidige begroting waarvoor daar reeds nie voldoende fondse is nie.

Swak finansiële beplanning kan die munisipaliteit se skuldlas vergroot en beurtkrag is onafwendbaar, sê die Vryheidsfront Plus. “Buiten dat daar nie geld  vir herstelwerk aan vervalle substasies is nie, kan die sukkelende elektriese netwerk beswaarlik die hoofstroom-elektrisiteit hanteer.”

Die party sê dit is jammer dat die inwoners van Emfuleni nou die gevolge dra van ‘n munisipaliteit wat oor jare nie hul huis in orde kon hou nie.

Related Articles

Back to top button