NewsNews

Tiener se dood spook steeds by dokter

Tiener se dood spook steeds by dokter

 

VANDERBIJLPARK. – Vier jaar nadat ‘n 17-jarige leerling van Hoërskool Transvalia tydens ‘n prosedure om vog uit haar longe te trek, gesterf het, het die hofsaak teen die internis wat haar behandel het, op 12 September ten einde geloop.
Dr. Whitney Mentor (42) is Woensdag 12 September in die Palmridge-landdroshof tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar. Dr. Mentor het na regsadvies van advokaat Barry Roux, en in oorleg met al die betrokke partye, skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag en die staat het drie ander klagtes teen hom laat vaar.
Franzél van den Bergh (17), is op Maandag 13 Oktober 2014 deur haar ouers, Pikkie en Emile van den Bergh na Mediclinic Emfuleni geneem nadat sy die Sondag gekla het van maagpyn en naarheid. Sy het dieselfde dag nog ‘n laparoskopie en ’n blindedermoperasie ondergaan. Die operasie is uitgevoer deur dr. Oloruntoyin Kabir Thomas, wat tans nie meer by Mediclinic Emfuleni praktiseer nie.
Komplikasies en septisemie het na die operasie ingetree. Franzél is weer op 22, 24 en 30 Oktober 2014 geopereer. Die toestand het egter veroorsaak dat sy longontsteking ontwikkel het en vog het in haar buik begin opgaar.
Op 4 November daardie jaar was Franzel terug in die intensiewe sorgeenheid. Dr. Mentor het op X-strale van die vorige dag gesien dat vog opgebou het aan die buiterand van haar longe en dat die regterlong platgeval het. Hy het dit nodig geag het om ‘n interkostale buis langs haar long in te steek om die vog te dreineer. Dr. Mentor het egter ‘n berekeningsfout gemaak deur die interkostale buis in die agtste ribspasie in plaas van die vyfde of sesde ribspasie in te steek. Haar lewer het inwendig begin bloei, waarna haar liggaam in skok gegaan en haar hart gaan staan het. Dr. Mentor kon nie daarin slaag om haar te resussiteer nie.

Dr. P.J. Schutte, die staatspatoloog, se bevinding was dat pneumonie (longontsteking) een van die hoofoorsake van Franzél se dood was. Die tweede oorsaak was ‘n opening in die wand van die sekum. Die sekum is die gedeelte van die dikderm waar die blindederm geheg is. Die opening op die sekum is glo nie 100% toegewerk na die blindedermoperasie nie en het gevolglik gelek en die septisemie veroorsaak. Die derde oorsaak van haar dood word deur Schutte beskryf as ‘n penetrasiewond in die lewer as gevolg van die plasing van die interkostale buis.

Franzél se pa, Emile, het na die hofsaak aan Vaalweekblad gesê: “Niemand het hiervoor (Franzél se dood) gevra nie. Dit is nie vir enige party aangenaam nie. “Beide partye het ‘n moeilike tyd gehad. Dr. Mentor en sy gesin moet ook met hul lewens voortgaan. Die feite van die saak is op die tafel gesit, die pleitooreenkoms is deur die regspanne aangegaan en die howe het die besluite geneem.” Dr. Mentor het in sy verklaring wat in die hof voorgelees is, onvoorwaardelik en opreg verskoning aan Emile en Pikkie gevra vir die dood van hul dogter. Volgens die verklaring is dit die ergste ding wat nog ooit met hom in sy loopbaan gebeur het en spook Franzél se dood nog daagliks by hom.

Die ondersoekbeampte in die saak, Sersant Dedray van Coller, moedig egter families aan dat as daar twyfel is oor die dood van ‘n geliefde daar verskeie opsies is en om vroegtydig die polisie te kontak sodat ‘n navraag dosier oopgemaak kan word.

Landros William Karan was op die bank terwyl Advokaat Deon Barnard vir die staat opgetree het. Dr. Mentor se span is prokureur Athol Gordon en advokaat Barry Roux. Advokaat Roux het destyds Oscar Pretorius teenwoordig terwyl senior staats Advokaat Deon Barnard ook ‘n groot lys hoë profiel sake agter sy naam het.

Dr Whitney Mentor gesels met Advokaat Barry Roux. Regs agter is Advokaat Dean Barnarn en die ondersoekbeampte Ser. Dedray van Coller. Foto: Jannie du Plessis

Related Articles

Back to top button