NewsNews

Wanneer ‘n dorp se mense omgee wys

Oorweldigende reaksie is die afgelope week gekry na ‘n oproep op sosiale media en in die Gazette om te help om Parys weer ‘n skoon dorp te maak. Dit nadat ‘n egpaar van Parys, Jan en Ann Bester, ‘n maand gelede die bal aan die rol gesit het met hul inisiatief om elke Saterdag saam …

Oorweldigende reaksie is die afgelope week gekry na ‘n oproep op sosiale media en in die Gazette om te help om Parys weer ‘n skoon dorp te maak.

Dit nadat ‘n egpaar van Parys, Jan en Ann Bester, ‘n maand gelede die bal aan die rol gesit het met hul inisiatief om elke Saterdag saam met vrywilligers die strate, parke en oop velde in die dorp skoon te maak.
Parys het beslis ‘n rommel-probleem. Dit sien jy as jy kyk na die oop velde, parke, en selfs langs die rivieroewer, waar vullis gesaai lê. Die areas word nie gereeld deur die munisipaliteit skoongehou nie, en hartseer genoeg is daar inwoners, verbygangers, besoekers, en haweloses wat bydra tot die probleem.
Aan die positiewe kant is daar inwoners wat gereeld uit eie sak en eie inisiatief self skoonmaak.
Dit is hierdie positiewe ingesteldheid wat Vrydag 21 September ook weer in die dorp gesien is. Stonehenge se personeel het na die oproep tot hulp reeds by die spruit agter die Sasol-vulstasie in die hoofstraat skoongemaak. Hope vullis wat andersins in die Vaalrivier sou beland.

Vir môre ( Saterdag 22 September) se gemeenskapskoonmaakprojek het Vaal Action Group al hul hulpbronne beskikbaar gestel, Biltong Valley het 200 leë voersakke geskenk, maskers is by Sasol gekry, ander het gehelp met swartsakke, het betaal vir arbeid of aangebied om self te kom help. Op watter manier ookal – Parys se mense wil help om die dorp skoon te kry!
Selfs Ngwathe munisipaliteit het reeds begin met ‘n aksie #Operation Keep Ngwathe Clean waarby ook ander rolspelers betrek is.
Kom maak ‘n verskil vanoggend, Saterdag 22 September om 08:00 by die spruit agter die Sasol-vulstasie.
Net ‘n uur van jou tyd, maar ‘n blywende voetspoor van omgee vir jou dorp, en die beeld wat dit laat in die oë van hulle wat weer die naweek Parys sal besoek.

Related Articles

Back to top button