NewsNews

Donker Koepelnagte lok sterrekundiges

Donker Koepelnagte lok sterrekundiges

Die Koepel raak toenemend gewild onder sterrekundiges – amateurs sowel as professionele
astronome – weens die donker naghemel hier, wat sterrekundige waarneming van hoë
kwaliteit moontlik maak.
In die stede is selfs duidelike objekte soos die Melkweg weens die hoë vlakke van ligbesoedeling lankal nie meer sigbaar nie, om van ernstige waarneming nie eens te praat nie.
Groot teleskope en duur toerusting staan daar ongebruik en onbruikbaar.
Daarteenoor is hier in die Vredefort Koepel, slegs 140km van Johannesburg, nog relatief goeie
toestande. Ongeveer tien jaar gelede het ‘n opname van nagdonkerte van sterrekundiges van
die Universiteit van Noordwes, gewys dat die naghemel hier nou wel nie so donker soos in die
Karoo of Suidwes is nie, maar wel donker genoeg om objekte soos die Koolsak langs die
Suiderkruis of die twee Magellaanse Wolke te sien – die vuisreël-toetse vir goeie waarnemingstoestande.
Sterrekyk-uitstappies word goed ondersteun, en by die sterrewag op Deelfontein is in hierdie
winter reeds drie geleenthede aangebied, met die vierde uitstappie wat op 13 Oktober sal volg.
Die Sterrekundeklub van Pretoria hou ook ook gereeld hier klubuitstappies, en ook die
Eksplorasieverening van Suid-Afrika is binnekort gaste op Deelfontein om die sterrewag se
fasiliteite te gebruik.
Die sterrewag spog met ‘n 12” Schmidt-Cassegrain-teleskoop van Meade met outomatiese rigfunksie, benewens ‘n paar ander teleskope, asook
seminaarfasiliteite vir die aanbieding van multimediavoorstellings.
Bewaring van die natuurlike hulpbronne in die Koepel lê die Koepel Bewarea na
aan die hart, en benewens die ander bedreigings wat hierdie natuurgebied in die gesig staar, is
die toename in ligbesoedeling iets wat in die laaste tyd al hoe meer ernstig raak.
Terwyl probleme soos die besoedeling van die Vaalrivier en die indringing van probleemplante hoog
rangeer in die algemene bewussyn, word onoordeelkundige en onnodige beligting nog nie
algemeen as probleem waargeneem nie.
Die vinnige uitbreiding van ontwikkeling in die
Koepel maak dit egter ‘n ernstige bedreiging vir een van ons onskatbare bates.
Ligbesoedeling as probleem in die Koepel is die tema van die Algemene Jaarvergadering van die Koepel Bewarea, wat op 27 Oktober plaasvind, en waar kundiges op die gebied die vergadering sal
toespreek.
Die verlies van nagdonkerte is beslis nie net vir sterrekykers ‘n probleem nie, al sou ‘n mens
dalk dink dat ligbesoedeling nou werklik nie dieselfde vlak van ernstigheid het as die vuil
Vaalrivierwater wat duisende visse laat vrek nie, en hoogstens ‘n estetiese verlies is wat net
vir ‘n paar navorsers van belang is.
Die probleem het egter ‘n baie groter impak as wat op die oog af sigbaar is.
Verskeie motspesies is op die rand van uitsterwing (of het reeds uitgesterf) omdat ligte hulle na die dood lok; die lig in die nag versteur die metaboliese ritme van diere, en ook vir die mens is daar ernstige gevolge.
Diep slaap is nie in ‘n helder omgewing
moontlik nie, en lig het ‘n uitwerking op die biochemiese balans in die menslike organisme.
Hierdie laegraadse invloed wys nie as akute probleem nie, maar verminder die
lewenskwaliteit van miljoene mense in die vorm van moegheid en vele ander simptome. Meer
inligting oor hierdie interessante tema word op die jaarvergadering van die Bewarea
aangebied.
Die volgende sterrekykuitstappie op Deelfontein vind op Saterdag 13 Oktober plaas en begin
soos gewoonlik om 19:00 met ‘n aanbieding in die seminaarkamer langs die sterrewag.
Besoekers kan verkykers saambring, want die groter konstellasies is daardeur beter sigbaar as
in die sterk teleskope. Verskeie teleskope sal beskikbaar wees.
Die uitstappie kos R100 per persoon. Bring warm klere en skoene saam, al behoort die nagtemperature in Oktober nie naastenby so laag te wees soos in die winter nie.
Padaanwysings na Deelfontein is op
www.deelfontein.co.za beskikbaar. Meld asseblief per epos aan by gerhard@deelfontein.co.za
of per sms aan 083 280 9784.

Related Articles

Back to top button