NewsNews

Eienaars sit sterte af en oorbelle in vir babahondjies

Eienaars sit sterte af en oorbelle in vir babahondjies

Twee babahondjies is Maandagaand by die Modderdam-kleinhoewes net buite Potchefstroom gaan haal nadat PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) ’n klag van dieremishandeling ontvang het.
Met aankoms by die kleinhoewe het PAWS-inspekteurs gesien dat twee Jack Russell-kruising hondjies se stertjies afgesit is.
“Die stertjies is nie onlangs afgesit nie en het al goed genees, maar dit is onwettig om ’n hondjie se stert af te sit,” sê Elloise Rootman, PAWS inspekteur.
Errol van Niekerk van PAWS sê die eienaars van die hondjies het erken dat die hondjies se sterte op ’n onmenslike manier afgesit is.
“Hulle het glo ’n mes en ’n hamer gebruik om die hondjies se sterte af te kap,” sê hy. Dit nadat daar eers rekkies om die hondjies se sterte gebind is en dit begin swel en vrot het.
Een van die inwoners het ook gesê dat oorbelle in die hondjies se ore gesit is, maar met PAWS se aankoms was dit reeds verwyder.
“Daar is wel rowe waar die oorbelle deurgesteek was,” sê Van Niekerk.
Hoewel die eienaars van die honde glo nie geweet het dat hulle nie hul hondjies se sterte mag afsit nie, word ’n klag van dieremishandeling steeds ondersoek.


Om babahonde se sterte af te sit is sedert 2008 deur die SAVC (Suid-Afrikaanse Veeartseraad) verbied. Geen veearts, tensy om mediese redes, mag meer hondjies se sterte afsit nie.
Tog is daar nog baie telers wat dit self doen. Volgens ’n verklaring van die SAVC word stert-dok (tail docking) gesien as dieremishandeling omdat, al word dit onder verdowing gedoen, dit steeds pyn en stres vir babahonde veroorsaak.
Daar is ook, volgens die SAVC, geen voordele daaraan om ’n hond se stert af te sit nie.
Baie mense meen egter dat sommige honde, soos boerboele, net nie “reg lyk” met sterte nie. Hoewel die afsit van sommige honderasse se sterte bloot ’n jarelange tradisie is, is daar ook diegene wat weens praktiese redes vir die afsit van sterte is.
’n Potchefstromer wat betrokke is by HPR (Hunt-Point-Retrieve)-honde soos German Shorthaired Pointers, Vizslas en Weimaraners, sê dit is soms nodig om eerder honde se sterte af te sit.
HPR honde word hoofsaaklik gebruik vir jag en veldwerk en hul lang sterte kan ’n risiko vir die hond se gesondheid inhou.
“Hulle lang sterte breek soms in die veld. Dit veroorsaak dan infeksie op die breekplek, wat indien nie vinnig behandel word nie, beteken dat die stert afgesit moet word. Dit is na baie lyding vir die hond,” sê hy.
“Ek glo vir dié rasse is stert-dok ’n moet. Ek jag reeds jare met honde en het telkemale die verskynsel van gebreekte sterte met dié honderassie gesien,” sê hy.
PAWS sê mense mag nie hul babahondjies se sterte afsit net omdat hulle dink die hondjies so moet lyk nie. Hulle kan aangekla word van dieremishandeling. Slegs ’n veearts mag dit doen indien daar ’n goeie mediese rede is. PAWS ondersoek tans ’n klag van dieremishandeling teen ’n plaaslike teler wat hondjies se sterte afgesit het. Vir meer inligting oor stert dok, of om ’n voorval van dieremishandeling aan te meld, kan PAWS by 071 681 9264, (018) 294 3856 of 084 501 8668 geskakel word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button