NewsNews

Munisipaliteit vra verskoning oor dienslewering

Ontevrede munisipale werkers gaan voort met protesoptrede.

Die Ngwathe munisipaliteit het vanmiddag by monde van sy woordvoerder, mnr. Steve Naale, namens die munisipaliteit verskoning gevra vir enige ongerief  vir inwoners met kliëntediens en ander munisipale dienslewering, wat sedert gister geraak word deur ‘n onbeplande en onbeskermde protesoptrede of sogenaamde “tools down” aksie deur ontevrede munisipale werkers wat lid is van SAMWU

Dit is steeds nie bekend wanneer die werkers sal terugkeer werk toe nie, maar die aanduiding is dat hulle met die aksie wil voortgaan totdat aan hul eise toegegee word.

Net voor 14:00 vanmiddag (Woensdag 12 September) het werkers wat aan die protesoptrede deelneem, vreedsaam uiteen gegaan, en hoewel die situasie toe nog kalm en onder beheer was, was die groep duidelik ernstig oor hul griewe, en word die moontlikheid van ontwrigting van noodsaaklike munisipale dienste genoem. Die sekondêre verset kan aksies by die waterwerke, riool, elektrisiteitsvoorsiening en vullisverwydering meebring.

Die groep het reeds vanoggend hul griewe-memorandum aan die bestuur van die munisipaliteit oorhandig en word onder meer gevra vir die bedanking van die munisipale bestuurder. Hulle is ongelukkig oor aanstellings wat na verneem is deur die munisipale bestuur gemaak is van mense buite die provinsie.

Van die griewe gaan ook oor die toekenning van tenders waar tenderprosedures glo nie gevolg is nie, en waar van die munisipale bestuur se familielede glo bevoordeel is, word gesê in ‘n dokument wat vroeg vanoggend by Gazette se kantore afgelewer is.

Van die projekte wat in die dokument genoem word, sluit in die verlenging van die riool-uitvallyn in Parys, ‘n laagwaterbrug projek in Edenville, paaie projek in Edenville. en die Kwakwatsi Sportkompleks in Koppies waar die kontrakteur glo vooruit betaal is en toe na bewering met die geld verdwyn het.

Werkers wat vanoggend wel wou kom werk is deur die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer,  en ‘n sekuriteitswag in die munisipale gebou laat ingaan, terwyl dié wat aan die aksie deelneem buite gewag het. Later het die groep  begin sing terwyl toegang tot die gebou steeds beheer is. Die groep is  gewaarsku dat dissiplinêre aksie kan volg omdat die optrede onwettig is, maar dat die munisipale bestuur bereid is om met die groep te praat.

SAMWU lede is daarna na die Forum-gebou langs die munsipale kantore geroep vir samesprekings, maar die groep het geweier en is die griewe-memorandum toe voor die munisipale gebou aan die munisipale bestuur oorhandig.

“Voertsek” het van die ontevredenes geskree toe die foto net na 13:00 vanmiddag geneem is.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button