NewsNews

Nagmerrie van ure se vlammehel

Boere van Vredefort, Parys, Viljoenskroon, Koppies en Kroonstad, het Sondag verbete geveg teen vlammehel in wind wat met tye tot 30km/h geword het.

Die brand het Sondagoggend ongeveer 08:00 sowat 24km buite Vredefort naby die R59 begin. Teen ongeveer 09:30 is die brand onder beheer gebring, maar skaars ’n halfuur later was die verwoestende vlamme as gevolg van die wind buite beheer. Dit het in ’n oogwink oor die Renosterrivier in ’n suidelike rigting versprei en is eers ure later teen 23:30 onder beheer gekry.
Met die wind wat van rigting verander het, is oesreste uit die lande oor brandstroke gewaai, en is dele wat reeds gebrand het, weer aan die brand gesteek wat verskeie kleiner brande tot gevolg gehad het.
In totaal is 2 400 ha se weiding afgebrand. Boere het groot skade gely met ’n wildskamp wat gebrand het, en tot 40 skape en 29 boerbokke wat omgekom het in die brand. Afgesien hiervan het ook onder meer heelwat bale tef en ’n afdak gebrand.


Dawid Steenkamp, ’n boer van Vredefort, is in sy trekker se kajuit deur vlamme oorval, terwyl hy besig was om ’n brandbaan te maak. Die wind het die vlamme verwoed aangedryf en het Steenkamp besef dat hy nie met die trekker voor die vlamme sou kon uitjaag nie. Hy wou omdraai en deur die vlamme jaag, maar die trekker het gestol net toe hy wou omdraai om deur die vlamme te ry.
In die trekker se kajuit het dit so warm geword dat van die plastiekkonsole begin smelt het. Selfs sy selfoon was so warm dat dit nie wou werk nie.
Met sy hande oortrek met blase soos hy gebrand het toe hy uit die warm trekker geklim het, het hy 300m ver gestap voordat twee boere, Jaco van Rensburg en Daan Grabe, hom gehelp het. Ook sy gesig en arm het gebrand, en is hy in die Kroon Netcare hospitaal in Kroonstad opgeneem vir behandeling. Hy is Dinsdag ontslaan.
Sowat 3 000 ha weiding is ook die naweek by Koppies afgebrand waar ’n brand Saterdag by Rooiwal uitgebreek het, en toe weer Sondag met die sterk wind opgevlam het. ’n Ongebruikte skoolgebou het onder meer afgebrand. In beide die Koppies en Vredefort brande is daar die vermoede van brandstigting. Volgens Pieter Kemp, streekbestuurder van die Free State Umbrella Fire Protection Association se Fezile Dabi-streekvir die Fezile Dabi-streek, is dit nodig dat boere met hom sal skakel in geval van enige brande sodat opnames gedoen kan word vir skadebepaling. Pieter kan gekontak word by 073 148 6245

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button