NewsNews

Duisende Sasol-stakers gee uiting aan hul stem

Die fokus gaan na verwagting nou na Sasolburg verskuif en later gaan albei aanlegte en die Sasol-steenkoolmyne gesamentlike aksies hou

Duisende Sasol-werknemers in Secunda het  vroeër vandag (6 September) gestaak en hul stem laat hoor uit protes teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema wat wit werkers bloot op grond van hul ras uitsluit.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê op die vakbond se webblad die werkers het vandag “deur middel van hul voete” hul stem laat hoor.

“Wat Sasol doen, is onregverdig teenoor werkers wat aan die maatskappy help bou het en wat deur al die jare lojaal en getroue werkers was. Duisende werkers het vandag met die staking gesê: Genoeg is genoeg,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann het die algemene publiek ook in groot getalle opgedaag en hulle by die stakers aangesluit om so ook hul steun aan die werknemers te wys en saam met hulle protes aan te teken. “Werkers is met rede kwaad omdat hulle deur Sasol op ʼn suiwer rasgebaseerde beginsel uitgesluit word en die gemeenskap het vandag gewys dat hulle saam met die werkers kwaad is en bereid is om hul stem te laat hoor vir dit wat hulle glo reg en billik is,” het Hermann gesê.

“Die feit dat die gemeenskap en almal wat deur hierdie onbillikheid geaffekteer word, so standpunt inneem vir dit waarin hulle glo, is ongelooflik bemoedigend. Dit wys hier is ʼn lewende gemeenskap wat ook bereid is om standpunt in te neem. Hierdie aksie gee ons moed en energie,” het Hermann gesê.

Solidariteit het vroeër die week aangekondig dat ʼn volledige staking  vandag (Donderdag 6 September) met ʼn massasaamtrek van die gemeenskap by die Secunda-aanleg en die Sasol-steenkoolmyne sou begin. Die fokus gaan dan na Sasolburg verskuif en later gaan albei aanlegte en die Sasol-steenkoolmyne gesamentlike aksies hou. Vaalweekblad van 5 September berig dat die staking na verwagting drie weke gaan aanhou.

* Volgens ‘n mediaverklaring wat Maandag deur Sasol uitgereik is, het Solidariteit vooraf amptelik kennis gegee van sy lede se voorneme om vanaf 3 September te staak. Sasol het noodmaatreëls in plek gestel om moontlike ontwrigting van die onderneming se bedrywighede te verminder.Volgens Sasol se mediaverklaring is dele van Sasol se Secunda- en Sasolburg-aanlegte besig met beplande instandhoudingstake (shutdowns) en aktiwiteite in hierdie verband gaan voort soos geskeduleer. Beplanning vir hierdie tydelike afskakelings is ‘n deurlopende jaarlikse proses en Sasol sê sy bedrywighede wat nie deel van die jaarlikse instandhoudingstydperk is nie, sal ook volgens beplanning voortgaan.

“Ons gaan die situasie deurgaans monitor. Ons prioriteit is om te verseker dat alle personeel betrokke bly om veilige en deurlopende werksaamhede te verseker. Sasol bly verbind tot oop en eerlike betrokkenheid by al ons vakbondvennote en ons werknemers,” lui die verklaring.

* Solidariteit het oorspronklik in Januarie vanjaar ‘n dispuut teen Sasol verklaar om beswaar te maak teen die uitsluiting van wit werknemers uit die werknemersprogram Sasol Khanyisa Fase 2.

Na ‘n tweede ronde samesprekings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die KVBA in Mei vanjaar ‘n “sertifikaat van geen resolusie” uitgereik omdat ‘n ooreenkoms tussen Sasol en Solidariteit nie bereik kon word nie.

Sasol sê ‘n “sertifikaat van geen resolusie” impliseer nie dat Solidariteit reg is of dat Sasol verkeerd is nie.  “Dit beteken bloot dat die partye nie ‘n middeweg kon vind nie en dus is toestemming aan Solidariteit verleen om arbeid te weerhou en op ‘n veilige manier te protesteer. Ons waardeer Solidariteit se verhouding met Sasol en sal verseker dat ons die kommunikasielyne tussen Sasol en die werkers oophou,” lui Sasol se verklaring.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button