NewsNews

’n Grootwordstorie wat jou ook die humor van tienerwees laat “proe”

Grootword kom met baie uitdagings veral as jy begin raak aan die tuimelreis van tienerwees.

Uitdagings wat met soveel deernis en humor raakgevat word deur skrywer Zelda Bezuidenhout, in haar jeugroman, “As mens geluk kon proe.”
Sy vertel in dié roman die heerlike grootwordstorie van Arnelia wat jou met tye sommer hardop wil laat lag.
Die roman is dan ook in 2017 as naaswenner in Lapa se Jeugromankompetisie bekroon.
Zelda is die afgelope net meer as drie jaar ’n Parysenaar, maar die dorp en sy mense is al vir baie lank ’n deel van haar en haar gesin. Vir bykans 16 jaar het hulle ’n huis in die dorp, en toe hulle uiteindelik Krugersdorp permanent vir Parys verruil, was dit huistoe kom.
Hoewel sy haar lewe lank kopieskrywer is vir reklamemaatskappye in Johannesburg, waarvan sy die laaste 20 jaar hoofsaaklik vryskut gewerk het, was boek skryf nooit in haar beplanning nie.
Dit is eers toe sy onlangs die geleentheid en tyd op hande gehad het om ’n Slypskool by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus by te woon, dat sy besef het daar is ’n boek in haar.
Die Slypskool was net die begin van die roman wat in ses weke geskryf is, gemik op lesers 12 tot 16 jaar. Voor sy haar kon kry het sy aanhou skryf aan die storie van ’n meisie wat baie lief was vir eet. Maar dit gaan oor meer as fisiese honger. Vir Arnelia was dit die honger na ’n gesin, die honger vir liefde, aanvaarding, en ’n plek in die lewe.
En dan kry sy haar plekkie – en daarmee saam ’n liefdeskinkel wat met ’n goue draadjie haar geluksprentjie omsoom.


Hoewel dit ’n jeugroman is, vertel Zelda dat ook volwassenes die boek sal geniet.
Haar skrywersink is nog lank nie droog nie. Sy het intussen ook al haar tweede jeugroman geskryf, en is besig met ’n volwasse roman. Albei boeke is tans in die proses van redigering.
“Ek het altyd gewag om nie te besig te wees om te skryf nie. Jy dink daar is nie tyd om te skryf nie, maar dan kom jy tot die besef jy moet die tyd vat. Jy moet opofferings maak – as jy dink daar is ‘n boek in jou,” vertel sy op haar rustige manier om ‘n koppie koffie by La Vie & Rose.
“Mense kan wonderlike idees hê, maar dit is niks werd as jy dit nie kombineer met harde werk en bloed sweet nie. Soms meer bloed sweet as idees.”
Zelda glo dat Slypskole van ongelooflike waarde is, en ‘n platform waar aspirant skrywers bekende outeurs en uitgewers kan ontmoet.
“Ons het in Suid-Afrika nog ‘n groot behoefte aan jeugromans,” vertel sy wanneer sy sê kinders lees nie genoeg nie. Sy ervaar egter dat daar steeds by Afrikaanse jong lesers ‘n begeerte is om te kan lees.
Haar man, Izak, en dogter, Mia, het haar ongelooflik baie ondersteun met haar skrywery en is dit juis Izak se neulery dat sy moet skryf, wat haar pen in die ink gekry het.
Maar vir nou gaan sy eers die 42km London Marathon Walk aandurf saam met vier vriendinne waarvan sy die enigste Suid-Afrikaner is. En wie weet dalk kom daar nog skryfidees in haar kop wanneer daar gestap word tussen tonele waar van die gewildste films oor tye heen verfilm is.
“As mens geluk kon proe” is reeds in die handel beskikbaar by Lapa Uitgewers en GraffittiBoeke. Parysenaars kan die boek plaaslik kry by Parys Nuus Agentskap (PNA) in die Pick ’n Pay sentrum, Philipstraat, Parys. Maak veral seker jy is by PNA op Vrydag 7 September tussen 15:00 en 16:00 wanneer Zelda self daar sal wees om haar boek te teken vir lesers.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button