NewsNews

Hernuwing van vuurwapenlisensies

Hernuwing van vuurwapenlisensies

Die privaatlid-wetsontwerp van die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, wat sekere wysigings aan die bestaande Wet op Vuurwapenbeheer voorstel en die hernuwing van vuurwapenlisensies sal reguleer, is Vrydag (31 Augustus) in die Staatskoerant gepubliseer.

Dié wetsontwerp is ingedien om oplossings te bring ná die omstredenheid en onsekerheid wat sowat twee maande gelede geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die geldigheid van die hernuwing van vuurwapenlisensies.

Volgens dr. Groenewald is daar net een uitweg om die probleem op te los, en dit is om die wet só te wysig dat vuurwapen-eienaars ‘n billike geleentheid gebied word om hul vuurwapenlisensies te hernu selfs nadat die lisensie verval het, sonder om die eiendomsreg op hul vuurwapens te verloor.

Die kennisgewing in die Staatskoerant lui onder meer (in Afrikaans vertaal):

“Die Grondwethof het in die saak van die minister van polisie teen die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging bevind dat Artikel 24 van die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000) grondwetlik is. Wat die hof egter nie oorweeg het nie, is die feit dat die wet nie voorsiening maak vir enige metode waardeur die versuim om aansoek te doen vir die hernuwing van ‘n lisensie ten minste 90 dae voor die verstryking van daardie lisensie – ‘n vereiste wat administratief van aard is – wel reggestel kan word nie.

“Die Wetsontwerp poog om ‘n administratiewe oplossing te bied waar ‘n persoon nie betyds aansoek gedoen het vir die hernuwing van ‘n vuurwapenlisensie nie. Sodanige hernuwing moet wel gedoen kan word, alhoewel met ‘n boete. Die beheer van vuurwapens is van integrale belang vir veiligheid en sekuriteit en om hierdie belang te balanseer, bied die Wetsontwerp voorsiening vir grasietydperke waarin aansoek gedoen kan word vir hernuwing.”

Dr. Groenewald sê dit is onaanvaarbaar en onbillik dat vuurwapen-eienaars hul vuurwapens verloor bloot weens ‘n administratiewe oorsig wat reggestel kan word deur ‘n boete te betaal en die lisensies te hernu, en die doel van die wetsontwerp is om dit reg te stel.

“Soos die situasie tans daar uitsien, word daar gediskrimineer teen vuurwapen-eienaars deurdat hulle hul eiendom (wapens) verloor, maar in die geval van ‘n motorlisensie betaal jy net ‘n boete sonder om die eiendomsreg op jou voertuig te verloor,” is Groenewald se standpunt.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button