NewsNews

Rowers val studente aan

Rowers val studente aan

Twee studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) is verlede week tydens rooftogte met messe aangeval.
Albert Radford (23) ’n derdejaar student in geoktrooieerde rekenmeesterskap, was Dinsdagoggend omstreeks 03:00 te voet op pad huis toe na ’n aand uit, toe drie mans in ‘n wit voertuig hom voorgekeer het.
“Dit was so onwerklik. Twee van hulle het uitgespring en dadelik hulle hande in my sakke begin druk,” vertel Radford.
Volgens hom het hy homself teëgesit en een van die mans met die vuis begin slaan. Die ander man het hom met ’n mes begin steek.
“Gelukkig het daar ’n bakkie gestop toe hulle sien wat gebeur,” vertel hy.
Die drie mans wat slegs Radford se selfoon kon steel, het in hulle voertuig geklim en weggejaag.
Die bestuurder van die bakkie wat gestop het, het Mooirivier Beskerming geskakel waarna ER24 ontbied is.
“’n Mens is eintlik so naïef. Toe die voertuig stop het ek aanvanklik gedink hulle wil my ’n rygeleentheid aanbied,” vertel hy.
Paramedici van ER24 het met die erg beseerde Radford na Mediclinic Potchefstroom gejaag.
Een van sy longe het ’n gat in waar die man hom in die bors gesteek het. Hy het ook groot snye op sy been en arm.
’n Groep vriende wat by Radford in die hospitaal gaan kuier het, het vertel dat hulle van ten minste nog vyf onlangse voorvalle weet waar studente met verskeie wapens, insluitend vuurwapens, beroof is.
In ‘n ander voorval is Letlhogonolo Dire (20) ’n tweedejaar onderwysstudent Saterdagoggend omstreeks 05:00 in Eleazerstraat beroof en met ’n mes gesteek. Volgens Dire was hy op pad terug na sy woonstel nadat hy tot laat op kampus aan ’n opdrag gewerk het.


“Ek het drie mans gesien aan die oorkant van die pad, maar ek het my nie regtig gesteur aan hulle nie,” het Dire gesê.
Volgens hom het hy kort nadat hy verby hulle geloop het, voetstappe gehoor.
“Dit het geklink of iemand na my toe hardloop. Ek het omgedraai en gesien een van die drie ouens hardloop reguit op my af,” vertel hy.
Dire het eers begin om weg te hardloop, maar het besef dat die man hom gaan vang.
“Ek het omgedraai, waarna ek hom met my rugsak begin slaan het,” vertel hy.
Kort daarna het een van die ander mans hom met ’n mes begin steek. Dire het probeer terugbaklei en nie dadelik sy rugsak laat gaan nie.
“Ek dink die derde keer wat hy my met die mes gesteek het, het ek maar laat gaan. Hulle het in die bosse in gevlug,” vertel hy.
Dire het om hulp geskree toe hy ’n voertuig in die pad gesien het.
“Dit was ’n Nigeriër wat vir my gevra het wat hulle gesteel het. Hy het gesê hy gaan hulle soek, maar het nooit teruggekom nie,” vertel hy. Gelukkig was dit nie nodig vir Dire om hospitaal toe te gaan nie.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar is niemand nog in hegtenis geneem nie. ’n Saak van rooftog word ondersoek.
Teen druktyd het Radford, wat nog in die hospitaal is, nog nie ’n klag by die polisie gaan lê nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button