NewsNews

Ouer mense neem toe – maar sorg wek kommer

Suid-Afrika se bejaarde bevolking word vinnig meer, sonder genoegsame emosionele welstand-sorg deur die staat.

Die jongste bevolkingsensus (Stats SA Junie 2017) toon ’n toename van 2,8 miljoen ouer mense in 1996 (7,1% van die totale bevolking) na 4,6 miljoen (8,1%) in 2017. Na verwagting sal die aantal ouer mense ter wêreld in 2045 meer as die aantal kinders wees.
Die vooruitskatting is dat die globale bevolking van mense ouer as 60, van 900 miljoen in 2015, na 2 miljard in 2050 sal toeneem. Een derde van die wêreldwye bevolking sal teen die einde van die eeu in daardie kategorie val.
Prof. Felix Potocnik, ’n lid van die South African Society of Psychiatrists (SASOP), sê Suid-Afrika se bevolking is in Afrika een van die lande wat die vinnigste oud word, en dié demografie vereis ’n bewustheid van die uitdagings en behoeftes van ouer mense.
“Daar is ’n verskil tussen gewone oudword en ingekorte emosionele welstand.  Depressie en demensie word dikwels in ouer volwassenes minder dikwels gediagnoseer as wat dit moet, oor die hoof gesien, of nie behandel nie. Dit is weens verskeie faktore, soos ’n oorvleueling met ander toestande en gedrag.”
Prof. Potocnik is veral bekommerd oor die gebrek aan sorg vir ouer mense in Suid-Afrika wat probleme met hul emosionele welstand ondervind.
Data van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Globale Gesondheidobservatorium raam daar is een sielkundige per 100 000 van die bevolking in Suid-Afrika, en selfs minder (0,4%) in die staatsektor. Vergelyk dit met die VSA en die Verenigde Koninkryk, waar daar onderskeidelik 12,4 en 14,6 sielkundiges per 100 000 is. Net drie van Suid-Afrika se 650 sielkundiges spesialiseer in bejaardes, in vergelyking met die internasionale neiging van twee tot sewe sulke sielkundiges per 100 000 mense ouer as 65 jaar.
“Daar was vyf eenhede aan Suid-Afrikaanse universiteite wat aan psigogeriatrie toegewy was. Tans is daar net een by die Stikland-hospitaal in Bellville in die Wes-Kaap.”
Hy sê daar word al hoe meer op familie, vriende, maatskaplike steungroepe, distriksklinieke en  streekshospitale gesteun om te help met die taak om dienste vir ouer mense te lewer. Boonop is medikasie duur.
“Daar is medikasie om Alzheimersiekte te behandel. Teen die helfte van die dosis is dit ook doeltreffend in die geval van vaskulêre demensie, diffuse Lewy Body-siekte en Parkinsonsiekte-demensie. Behandeling met albei agente, waar generiese ekwivalente beskikbaar is, kos minder as R500 per maand. Dit is egter nie in die Staatsgesondheidsektor beskikbaar nie, en tans befonds die meeste mediese hulpskemas dit nie.
Die meeste mediese hulpskemas erken Alzheimersiekte nie as ’n Voorgeskrewe Minimum voordeel nie, en daarom is medikasie en sorg baie duur.”
Prof. Potocnik sê die uitdaging wat met ’n gevorderde ouderdom gepaard gaan, skep sterk emosies soos hartseer, angstigheid, eensaamheid en afname in selfvertroue en selfbeeld. Saam met liggaamlike en/of emosionele verswakking raak ‘n persoon meer kwesbaar.
“Ouer volwassenes wat aan depressie ly, ervaar simptome wat by hul daaglikse lewe inmeng. Die gevolg is dat hulle hul aan sosiale bedrywighede, vriende en familie onttrek, asook aan al die dinge wat hulle vreugde gegee het. Dis belangrik dat familielede oplettend is vir gedragsveranderings.”
In Suid-Afrika ly 6-7% van die bejaarde bevolking aan demensie. In meer ontwikkelde lande soos die Verenigde Koninkryk is die syfer 1 in 3. Prof. Potocnik sê demensie is meestal ’n stadige proses wat geleidelik vererger wat gespesialiseerde monitering en behandeling deur ’n sielkundige vereis.
“’n Mate van vergeetagtigheid is normaal namate ’n mense ouer word, maar dis belangrik om te besef dis geen probleem as ’n mens steeds verstandige besluite kan neem en elke dag met die lewe kan voortgaan nie. In die vroeë stadiums kan veelvuldige kognitiewe uitvalle ’n daling in iemand se vermoë om abstrak en logies te dink, taal behoorlik te gebruik en verstandige besluite te neem, vooruitgaan”
“Die brein se onvermoë tot behoorlike werking begin om daaglikse bedrywighede te beïnvloed. Die persoon toon daarom dus moontlik ’n onvermoë om lank genoeg aandag te skenk en te fokus om ’n boek of artikel behoorlik te lees, of ’n TV-program te volg. Kunstenaars kan dalk nie hul werkstandaard  volhou nie, of mense raak by die werk miskien aan die slaap.”
Prof. Potocnik sê gemoedskommelinge is ’n baie vroeë teken van demensie. Daar is gewoonlik ’n onderstroming van irritasie wat dikwels met emosionele uitbarstings gepaard gaan. Die pasiënt toon miskien ook herhaalde depressiewe episodes of angstigheid wat al hoe moeiliker word om te behandel en in toom te hou. Persoonlikheid kan ook verander.”
Hy sê geheueverlies onder dié wat aan demensie ly, is onder meer ’n onvermoë om nuwe inligting aan te leer. Hoewel geheueverlies met klein roetine-take kan begin, kan daar  in ’n gevorderde stadium van geheueverlies belangrike besonderhede en datums vergeet word, en onthou of herken die persoon selfs nie gesinslede nie.
Boonop kan die kombinasie van verswakkende kognisie en beweging daarop uitloop dat die persoon nie toepaslik kan aantrek nie, of nie kan skryf nie.
Ander sukkel om bepaalde voorwerpe soos penne, verskillende geldwaardes en sleutels te herken, en die name daarvan te noem, of waarvoor hulle gebruik word. In baie gevorderde stadiums herken hulle moontlik nie eens meer hulself in die spieël nie. Hulle spraak word vaag, sonder inhoud en met verdere agteruitgang word onverstaanbare lang sinne gebruik.”
Die duur van demensie kan slegs twee maande wees, of oor twee dekades  strek. Die pasiënte self verloor baie gou insig, en is nie bewus van enige probleme wat hulle mag veroorsaak nie, maar dié ‘tweede kinderjare’ is vir versorgers ’n groot las.
Onder hulle kom depressie en ander siektes meer as twee maal die normale voor, so ook die nodigheid van medikasie of selfs toelating tot ’n hospitaal. Versorgers wat na ’n gade met demensie omsien, toon selfs ’n ses keer groter voorkoms van demensie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button